Steelpoort Akademie leerders verken die stad
Die gr. 5-leerders van Steelpoort Akademie het voor die eksamen 'n skooluitstappie onderneem na die stad en dit baie geniet!

Die eerste stop op die driedagse toer was by BounceIng in Menlyn. Daarna het die leerlinge vir ‘n retoerrit op die Gautrein gegaan, iets wat baie min kinders en selfs volwassenes die voorreg beskore is.
Dag twee se besoek aan Gold Reef City het gesorg vir hope pret, en ‘n paar benoude oomblike. Na ‘n heerlike middagete by Wimpy was hulle gereed vir die ysskaatsbaan waar die jongklomp ure se pret gehad het.
Die derde dag was omtrent ‘n leerskool! Leerders het die Voortrekker Monument besoek en op pad huis toe het hulle ‘n laaste stop by die Universiteit van Pretoria gemaak. Daar het hulle allerhande wetenskapeksperimente gedoen en speletjies gespeel.
“Die toer het, soos beloof, elke leerder se verwagting oortref. Wat ‘n ongelooflike ervaring!” vertel juffrou Anzerie Ferreira, toerleier van die groep.





