IN FOTO’S: Hoërskool Nelspruit se Groot 5-toernooi ‘n wenner
Daar was honderde wedstryde oor amper 50 bane gespeel oor die twee dae van die kompetisie.
Die jaarlikse Groot 5-tennistoernooi, aangebied deur Hoërskool Nelspruit (NHS), was ‘n reuse sukses.
Dié onlangse toernooi is ‘n gevestigde hoogtepunt op die NHS-kalender en verwelkom elke jaar van die beste jong tennisspelers van regoor Suid-Afrika. Besoekers het van so ver as Paarl en Stellenbosch gereis om deel te neem aan dié prestigegeleentheid. Wedstryde is op 13 en 14 Februarie oor verskeie bane in Mbombela en Witrivier aangebied, insluitend Laerskool Nelspruit, Panorama Tennisklub, Nelspruit Primary, Nelspruit Tennisklub, Flamboyant Tennisklub, Laerskool Laeveld, Laerskool Bergland, Laerskool Witrivier, Uplands en NHS se eie bane.
“Dit is vir Hoërskool Nelspruit ‘n besondere voorreg om hierdie eksklusiewe toernooi vir passievolle tennisspelers aan te bied,” sê skoolhoof Willie van der Merwe. “Uitdagings soos dié gee spelers die geleentheid om hul Godgegewe talente te ontwikkel en te groei as afgeronde tennisspelers. Hierdie toernooi bied egter veel meer as net ‘n geleentheid vir tennisontwikkeling, dit skep die gulde geleentheid om nuwe vriendskapsbande aan te knoop en onontbeerlike lewenslesse te leer.”

Honderde wedstryde is oor twee dae gespeel om vanjaar se wenners te bepaal. Onder die dogters is Sekondêre Meisieskool Oranje as wenner gekroon, gevolg deur NHS in tweede plek. Helpmekaar College en Afrikaans Hoër Meisieskool was gelyk in derde.
Aan die seuns se kant het Helpmekaar College getriomfeer, met Paarl Gimnasium in tweede plek. Die Hoërskool Menlopark en Midstream College was gelyk in derde, en NHS is algeheel sewende uit die 10 deelnemende skole.
Hendré van Zyl (Paarl Gimnasium), Roné Lourens (Paarl Girls High) en Lika Claasens (Oranje) was gekenmerk as die individuë met die beste sportmangees. Die Leoni Weirich Wisseltrofee vir die dogterspan met die beste sportmanskap was aan HTS Middelburg gegee en die Lendo Vonkel Wisseltrofee vir die seunsspan met die beste sportmanskap het na Paarl Gimnasium gegaan.
> Foto’s: Blake Linder





















































































