Spiesgooiers toon hope talent
Wanneer 'n hoërskool in die bevoorregte posisie is om 'n atleet te hê wat tot afstande verder as 60 meter in spiesgooi in staat is, sorg sy/haar deelname vir groot opwinding.

Om egter drie atlete in drie verskillende ouderdomsgroepe te hê wat hierdie uitsonderlike prestasie kan vermag, is baie buitengewoon – iets waarvan selfs deurwinterde entoesiaste nog nooit van gehoor het nie.
Verlede Saterdag op Mookghopong, waar die jaarlikse prestige top-20-byeenkoms plaasgevind het, het Hoërskool Nelspruit se drie ystermanne in die spiesgooi, Stefan Smit (o/14), Stephan van der Bank (o/15) en Werner Bouwer (o/16), almal die 60m-kerf oorskry – ‘n eerste in NHS (en sekerlik ook die provinsie, dalk nog in die RSA) se geskiedenis.
Die afrigter, DP Badenhorst, wat self op sy dag ‘n puik spiesgooier was en tans die nasionale afrigter is, is met reg baie trots op sy manne se skitterende afstande. Werner se 62,55m is ‘n nuwe Nellie-rekord, so ook Stephan se puik gooi van 67,35m – verder as die afstand waarmee hy vroeër vanjaar die SA o/15-titel ingepalm het. Dit was natuurlik die titel wat Werner ook in 2013 (toe hy o/15 was) gewen het. Stefan is die groentjie van die drie. Hy is vanjaar in gr. 8 en het sy hoërskool-atletiek in Januarie op ‘n ongelukkige noot begin, toe hy ‘n ernstige handbesering opgedoen het.
Na ‘n strawwe rugbyseisoen het Stefan die spies met mening weer nader getrek en reeds tydens oefeninge met uitstekende pogings beïndruk. Op Mookghopong wen hy die o/14-spiesgooi met ‘n reusegooi van 60,25m, wat ‘n nuwe byeenkomsrekord was. Sy skyfwerp-afstand van 54,54m het die bekende Frans Schutte se Nelspruit-rekord (vir o/14’s) met meer as 50cm verbeter.
Met die 2015 Laeveld-interhoër wat op NHS se baan gaan plaasvind, kan die toeskouers hulle klaarmaak vir ‘n atletiekfees soos min. Benewens hierdie drie sterre, is daar nog ‘n hele klomp atlete wat nou reeds die oog met hulle baie goeie prestasies vang. Stefan se oefenmaat, Joshua Maas, ook in gr. 8, het reeds oor die 53m aangeteken en ook hy lyk reg vir vuurwerke in die nuwe seisoen.
