Atlete toon reeds groot belofte op atletiekbaan
Atlete sweet reeds met die opmars na vanjaar se Mediclinic Interhoër wat oor 30 dae plaasvind.

Penryn College en hoërskole Nelspruit en Bergvlam het Dinsdag hul jaarlikse interhuisatletiekbyeenkoms gehad.
Van die ses items waaraan Francois Esselin (seuns o/17) van Hoërskool Nelspruit deelgeneem het, het hy vyf eerste plekke verower. Sy goue medalje met die gewigstootbal het hom die beste atleet van die dag gemaak.
Alhoewel hy nie op die rekord van 17,25 meter wat in 2009 opgestel is, verbeter het nie, het hy steeds die vyf-kilogram bal 16,60 meter ver laat trek. Dit het hom 888 ASA punte besorg.
Só het hy in die ander items gevaar:
• 100 meter – derde met ‘n tyd van 11:90 sekondes
• 400 meter – tweede in 00:55:30 sekondes
• Verspring – eerste met ‘n afstand van 5,89 meter
• Diskus – eerste met 43,21 meter
• Spiesgooi – tweede met 51,48 meter.
Penryn se blondekop, Jemma McKenzie (dogters o/16) is die room van haar skool nadat sy met ‘n hoogte van 1,45 meter oor die hoogspringlat geseil het.
Jemma het óók
‘n eerste plek op die podium ingeneem nadat sy in die verspringput ‘n sierlike afstand van 4,20 meter gespring het. Op die baan het sy ook uitgeblink en ‘n goud in die 200 meter met ‘n tyd van 33:37 sekondes behaal en ‘n derde plek in die 1 500 meter in 06:58:75.
Hoërskool Bergvlam se o/17- baanbreker en SA-atleet, Maudas Banda, het weer die rekords laat spat. Dié verspringer het die vorige rekord van 6,32 meter met byna 70 sentimeter verpletter. Dit was ook dié dag se beste prestasie. Alhoewel dit nie sy persoonlike beste tot dusver is nie, was hy nogtans verheug met sy spogsprong.
