Komatipoort se eerstes deel trofee
Die Komatipoorters kon na 'n riller van 'n finaal uiteindelik die trofee hoog lig.

KOMATIPOORT – Komatipoort Akademie se eerste span is die gesamentlike kampioene van die kleinerskole-rugbyliga.
In ‘n dramatiese finaal teen Hoërskool Steelcrest van Middelburg, moes die Komatipoorters met ‘n eindtelling van 22 elk tevrede wees.
Afrigter Johan Willers, vertel dat dit ‘n baie taai wedstryd was, “Die feit dat ons direk na ‘n vier week lange vakansie die wedstryd moes speel, het dit baie moeilik gemaak. Ons spelers se families het weggegaan met vakansie en ons kon nie gedurende daardie tyd eintlik oefen nie. Ek is verskriklik trots op my manne.”
Willers meen die span het bo verwagting presteer. “As jy gaan kyk waar ons weggespring het, het alles net eenvoudig in plek geval.
“Almal het maklik by die spelpatroon ingeval en deel van ‘n baie sterk ketting uitgemaak. Ons het regdeur die seisoen groot tellings opgesit.
“My spelers verdien regtig om met die trofee huis toe te gaan.”