BHS klop Bergvlam en Valencia
Twee krieketspanne het verlede week die knie gebuig voor BHS.

BARBERTON – Hoërskool Barberton se tweede krieketspan was verlede week behoorlik in hulle noppies toe hul Valencia met 88 lopies gewen het. Die wedstryd het Dinsdag op hul tuisveld plaasgevind en die kolwer van die wedstryd en beste bouler was Stefan Botha en Elmar Paulse onderskeidelik.
Valencia het BHS eerste ingestuur om te kolf nadat hulle die loot gewen het en Barberton het geëindig met ‘n telling van 154 vir sewe na 20 beurte. Valencia het ingegaan om te kolf en is vir 66 lopies uitgehaal.
Saterdag het Hoërskool Barberton teen Bergvlam gespeel in Nelspruit en die
o/15- span het die wedstryd met twee paaltjies gewen. BHS het besluit om eerste te boul na hul die loot gewen het. Met die eerste aflewering het die eerste paaltjies geval met ‘n skitterende vangskoot deur Francois Henning. Nie een vangskoot is laat val nie en Charl Stapel, DJ Raulstone en Gibran van der Hoven het goeie vangskote benut.
Bergvlam is uitgeboul in die 22ste beurt vir 84 lopies. BHS het gaan kolf en deurlopend paaltjies verloor, maar die kaptein en speler van die wedstryd, Charl Stapel het vasgestaan vir 34 lopies en saam met Werner van Wyk het hulle die wenlopies geslaan.