Komatipoort deur na Beeldtrofee finaal op hel tuisveld
Die eerste span van Komatipoort Akademie, ook bekend as die Buffels, het Saterdag 'n finaal in die Beeldtrofee op hul tuisveld verseker, deur Belvedere met 27-20 te wen. Laasgenoemde is die wenners in die Valke se streek.
Die eerste span van Komatipoort Akademie, ook bekend as die Buffels, het Saterdag ‘n finaal in die Beeldtrofee op hul tuisveld verseker, deur Belvedere met 27-20 te wen. Laasgenoemde is die wenners in die Valke se streek.
Die wedstryd was deurgaans ‘n naelbyt-ervaring, maar Belvedere moes aan die einde die knie voor Akademie buig. William Atkinson en Leon du Rand het elk ‘n drie gedruk wat deur Dirk de Bruyn, agsteman en kaptein van die span, vervyf is. De Bruyn het ook ‘n doel oorgeskop nadat skrumskakel, Tiaan Nel vir nog vyf punte gesorg het. De Bruyn het ‘n strafskop oorgesit pale toe. Jonathan Loubser, buitesenter, het ook ‘n drie aangeteken.
Die skool maak hiermee geskiedenis en is baie trots op hul seuns. Die span het in 2012 tot by die semi-finaal, wat ook plaaslik gespeel is, deurgedring. Die hele dorp hou duim vas en is opgewonde om te sien of die trofee vanjaar in Komatipoort gaan bly. Daar is groot vertroue in die spelers en hul afrigter.
In 2011 is die o/15s van Komatipoort Akademie ook die Beeldtrofee-wenners. Agt van die seuns (Louis Wolmarans, Barend Willers, Dylan Veldsman, Johan van der Berg, Jonathan Loubser, Juandrè Kruger, Justin Nel, Marcian Minnaar, Innocent Khoza) wat vanjaar in die finaal vir die eerste span speel, het toe al die vreugde ervaar van om oorwinnaars van hierdie gesogte trofee te wees. Hulle is honger en gemotiveerd om dit weer te doen.
Die beheerliggaam van Komatipoort Akademie wens hul eerste rugbyspan en afrigter, Johan Willers baie geluk met die uitstekende prestasie en wens hul baie sterkte vir eerskomende naweek se Beeld-finale.
“Ons bid die seën van die Here oor julle en weet dat alles ten goede sal mee werk vir die wat Hom liefhet. Wees verseker van ons ondersteuning en dat ons baie trots op julle is. Komati Akademie kook!”
Boodskap van die afrigter: “Sterkte vir Saterdag en dankie vir die gemeenskap se ondersteuning. Sien julle Saterdag by die skool”.
Saterdag se span is soos volg: heelagter: Juandrè Kruger; regtervleuel: Francois Labuschagne; buitesenter: Jonathan Loubser; binnesenter: William Atkinson; linkervleuel: Justin Nel; losskakel: Martin Nel; skrumskakel: Tiaan Nel; agsteman: Dirk de Bruyn (kaptein); regterflank: Dylan Veldsman; linkerflank: Barend Willers; slot: Johan van der Berg; slot: Human van der Berg; vaskopstut: Ian Ouwenkamp; haker: Andrè van der Westhuizen; loskopstut: Louis Wolmarans. Reserwes: Wynand Smit, Leon du Randt, Ruan van Rooyen, Marcian Minnaar, Innocent Khoza en JJ van Rensburg.
Beeldtrofee-finaal program:
• o/14 09:00: Hoërskool Eric Louw vs. Kanonkop
• o/15 10:00: Heilbron vs. Voortrekker
• o/16 11:12: PTHS vs. Stella
12:30: Komatipoort vs. Koster.
