Geen respek vir ontslapenes
Begraafplase in die omgewing is erg verwaarloos. Daar heers chaos met rommel wat links en regs gestrooi word en vandale wat gereeld skade aanrig.
NELSPRUIT – Laevelder het hierdie week drie begraafplase besoek nadat daar verlede week berig is dat daar by die een in Sonheuwel as uit die gedenkmuur gesteel is. Dit lyk nie veel beter by die een langs SAB in die industriële gebied en die begraafplaas in Rocky Drift nie.
Meer as 20 vakkies is in die gedenkmuur in Sonheuwel oopgebreek en die as is daaruit gesteel. Dit word vermoedelik vir moetie gebruik. Mnr. Jaap Vermaak het in 2009 'n hokkie in die muur by die krematorium vir sy skoonpa gekoop. Nadat hy gesien het hoe dit deur vandale verniel word, het hy besluit om eerder die steen af te haal en die as te verwyder.
Verskeie navrae van Laevelder aan woordvoerders van Mbombela Munisipaliteit,
mnr. Joseph Ngala en me. Bessie Pienaar, bly onbeantwoord. Die koerant het weer self na die begraafplaas gegaan en daar met 'n sekuriteitswag gesels wat onlangs aangestel is.
“Daar is saans vier sekuriteitswagte en twee bedags om te kyk dat die mense wat die begraafplaas só verniel en geen respek daarvoor het nie, vasgetrek word,” het die wag gesê. Die gedenkmuur sal binnekort met 'n lamp verlig word.
By die begraafplaas in die industriële gebied het daar verlede Donderdag 'n hopie warm as langs een van die grafte gelê.
Dit is nie duidelik of daar vuur gemaak is vir een of ander ritueel nie en of 'n hawelose dalk daar geslaap het en homself wou warm hou nie. Dit word verder deur rommel soos plastiek- en drankbottels ontsier.
Daar is 'n paadjie deur die begraafplaas waar gemors óók gestrooi word.
Tekens van 'n brand wat onlangs deur Rocky Drift se begraafplaas beweeg het, is sigbaar, maar dis steeds nie so verwaarloos soos die een in die industriële gebied nie.
• Begraafplase in die Laeveld is nie die enigstes wat deur vandale beskadig word nie. 'n Nasionale koerant het hierdie week berig dat 'n baba wat onlangs in die Noord-Kaap dood en in Weseinde-begraafplaas ter ruste gelê is, se graffie oopgemaak en die klere van haar lyfie af gesteel is. Die kis en lykie is net so in die grond gelaat.
