Man dood op besige N4
Nog 'n man is met ernstige beserings na die hospitaal gebring
NELSPRUIT – Een man is gisteraand op die N4 in Gauteng se rigting dood nadat die voertuig waarin hy was die pad verlaat en gerol het.
Vyf insittendes was met ‘n Opel Astra op pad na Nelspruit toe die voertuig die pad verlaat en oor ‘n draad gerol het. Die ongeluk het omstreeks 18:45 naby Alkmaar gebeur.
‘n Passasier wat regs agter gesit het, is binne-in die wrak dood. Nog ‘n man is met ernstige beserings na Rob Ferreira Hospitaal geneem.
Drie ander mans, insluitende die bestuurder, het slegs geringe beserings opgedoen.
Die N4 was gister druk besig in Malalane se rigting soos duisende vakansiegangers na Mosambiek gereis het. Tot 2000 voertuie het elke uur deur die tolhekke beweeg.
