Eg Meksikaans by Cicada
Die maandelikse aansitetes van die Laeveld Lekkerbekke gee ‘n duidelike oorsig van die besonderse en goeie kos wat dikwels in eetplekke hier rond voorgesit word, sê die plaaslike radiopersoonlikheid en kos- en wynliefhebber, Tom Farmer.
NELSPRUIT – Met die onlangse eg-Meksikaanse ete by Cicada in Sonpark kry Sarah-Marie Snyman volpunte vir haar besondere poging. Sy het groot moeite gedoen om die koskultuur van hierdie sentraal Amerikaanse land in te studeer. Haar viergang maaltyd kon net sowel bedien wees in ‘n skemer taverne iewers in Puerto Vallarta, volledig met die rou weeklaag van Cavalla Vargas as agtergrondmusiek.
Daar was ook die Lekkerbek of twee wat dié ete by Cicada as die beste nog bestempel het.
Op die spyskaart was Meksikaanse Tuna Ceviche – Tuna, rou en so bedrup met vars uitgedrukte lemmetjiesap, ruimskoots besprinkel met gerkerfde avocado, jelipino en koljander blare.
Hoender Empanadas – Meksikaanse hoender tertjies in ‘n ligte deeg met ‘n sous van kaas en soetmielies. Derde in die ry was Nachos Chilli Con Carne soos nog nooit vantevore in die Laeveld gesien is nie. Die gebraaide garing varkvleis Carnita met talryke by-vulsels is oorvloedig, bak na bak vir selfdien op die tafelstoe gedra. Die varste tortilla met guacamole, gekerfde bone, gepiekelde rooiuitjies, salsa Pico de Gallo, geklopte room en spesiale sagte Meksikaanse kaas – natuurlik nie sonder die brandrissie glanssous wat soos helder juwele van rooie en geel in die bakkies geskitter het nie. Mens kon jou maklik aan ernstige braserny maak. Ek dink dis hoe dit by sulke plekke gaan. Alles is net te lekker!
Tres Leches, die tradionele sponskoek verdrink in drie soorte gegeurde room was so kondemsmelk lekker – maar toe kon niemand meer nie. Ek het saamgevat vir die volgende dag.
Sonpark aan die pad na Barberton is haas besig om die uiteet en aansit Mekka van Nelspruit te word. Cicada – wat ewe gepas, sonbesie beteken, was een van die eerstes hier. Die lekkerte is nog lank nie verby nie.
Die Laeveld Lekkerbekke is ‘n plaaslike kring van uiteters met die vaste geloof dat die lekkerste ete ooit, nog voorlê. Daar word plek gemaak vir net dertig op ‘n keer. Die groep wissel af en maak beurte. Nuwe geselskap is egter altyd welkom. Kontak Sofie by sofie@kellaprince.co.za






