Local newsNewsNews

Swak opkoms by Bobs se basaar lei tot groot teleurstelling onder bejaardes

Hierdie mense, wat 'n leeftyd se swoeg en sweet agter die rug het, staan nie bakhand en bedel nie, maar neem inisiatief en is elkeen 'n entrepreneur uit eie reg.

BARBERTON – Die jaar is vinnig besig om tot ‘n einde te snel en daar word vir ‘n geruime tyd al hard gewerk en beplan aan die jaarlikse basaar wat deur die pensioenarisse van Bobs aangebied word.

Christelle Strauss en Elna Nel by die lootjiestafel waarop, soos hulle dit genoem het, "Christelle se blommekoek" gepryk het.
Christelle Strauss en Elna Nel by die lootjiestafel waarop, soos hulle dit genoem het, “Christelle se blommekoek” gepryk het.

Donderdagoggend het die bejaardes hul ware na die stadsaal geneem waar die basaar sou plaasvind. Alles wat ‘n mens verwag om op ‘n behoorlike boere-basaar te kry, sou jy daar vind. Die gebruiklike kerrie en rys en vetkoek met maalvleis, boereworsrolletjies, sosaties, pannekoek en koeke en terte was maar ‘n paar van die lekkernye wat te koop aangebied is. Vrugte en groente is buite op die sypaadjie aangrensend tot die sydeur van die stadsaal uitgestal, en die handewerk van die vroue was uit die boonste rakke.

Moreen Gorden en Vivvien Swan by 'n tafel vol lekkernye.
Moreen Gorden en Vivvien Swan by ‘n tafel vol lekkernye.

Alles was gereed en selfs die media het hulle kant gebring en gevra dat Barbertonners die bejaardes ondersteun. Hierdie mense, wat ‘n leeftyd se swoeg en sweet agter die rug het, staan nie bakhand en bedel nie, maar neem inisiatief en is elkeen ‘n entrepreneur uit eie reg. Boonop word die opbrengs van so ‘n basaar teruggeploeg in die gemeenskap.

Poppe in feetjierokke wat enige dogtertjie se hart sal steel. Teen R30 elk was dit voorwaar nie te versmaai nie.
Poppe in feetjierokke wat enige dogtertjie se hart sal steel. Teen R30 elk was dit voorwaar nie te versmaai nie.

Groot was die verslaenheid van die organiseerders en komitee, soos Christelle Strauss, om te sien hoe die bejaardes na al hul harde werk soms vir ure daar moes sit sonder dat iemand ‘n draai kom maak het.

“Ek is diep teleurgesteld in die feit dat mense nie eens elkeen ‘n R10 of R20 kon spandeer nie. Vir elkeen wat wel Vrydag en Saterdag hul ondersteuning gegee het, sê ek uit my hart uit dankie namens ons bejaardes,” het Christelle gesê.

Die vrou wat verantwoordelik is vir die maak van die pragtige rokke wat die poppe aan het, is Audrey Koorts.
Die vrou wat verantwoordelik is vir die maak van die pragtige rokke wat die poppe aan het, is Audrey Koorts.

Om 11:00 Saterdag het van die Bobs-mensies reeds hul goedjies begin oppak. Hopelik sal almal in Barberton wat oor die vermoëe beskik het om ‘n geldjie daar te spandeer, volgende keer wel aandoen by die basaar. Aan al die bejaardes – julle is kosbaar en julle handewerk en entoesiasme is iets wat mens diep raak. Doen so voort!

Hennie Grobler kom maak 'n draai by die pannekoektafel. Hier saam met bobaas-bakster, Ivy Smit.
Hennie Grobler kom maak ‘n draai by die pannekoektafel. Hier saam met bobaas-bakster, Ivy Smit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button