Care buddies hou makietie
Hierdie vroue, wat wonderlike en onbaatsugtige werk onder die oues van dae in Barberton verrig, het gesorg dat daar nie 'n oomblik van verveeldheid was nie.
BARBERTON – Die Care Buddies het onlangs ‘n gesellige en vrolike kuier-oggend aan die bejaardes in die gemeenskap gebied toe hulle die jaarlikse afsluiting by die saal van die NG Kerk gehou het.
Hierdie vroue, wat wonderlike en onbaatsugtige werk onder die oues van dae in Barberton verrig, het gesorg dat daar nie ‘n oomblik van verveeldheid was nie. Kinders van verskillende skole het opgetree en die gaste met dans, drama en voordrag vermaak.
Die hoogtepunt was ongetwyfeld toe “Dolly Parton” ‘n draai op die planke gemaak het. Beter bekend as Judy Black, wat die mense behoorlik laat skater het met haar kwinkslae en letterlik rondborstig en vooruitstrewend haar passies saam met ‘n skim Kenny Rodgers op die verhoog uitgehaal het.
Na afloop van die vermaak, is daar heerlik gekuier terwyl die lekkerste eetgoed en tee bedien is.
Die Care Buddies is dringend op soek na vrywilligers om by hulle aan te sluit. Indien jy ‘n liefde vir ons bejaardes het en ‘n verskil in hul lewens wil maak, moenie huiwer om Glenda Dallas by 082-953-7447 te skakel nie.
