Skolier sterf weens dwelmoormaat.
Terwyl die wêreld besig was om die tyding van ‘n afgestorwe ikoon te verwerk, het vyf jong seuns oor die dood van hul vriend gerou.

MASHISHING – Terwyl die wêreld besig was om die tyding van ‘n afgestorwe ikoon te verwerk, het vyf jong seuns oor die dood van hul vriend gerou.
Die 20 jarige gr. 11-leerling van Mashishing High het Donderdag verneem dat hy na gr. 12 bevorder sou word en etlike ure later is hy dood in ‘n vriend se huis weens ‘n oordosis dwelms aangetref: “Ons is geskok. Ons is oortuig daarvan dat hy voorheen geen dwelms gebruik het nie,” vertel die vyf seuns.
“Hy het wel sigarette gerook,” voeg een van hulle by en weer soos een man klink dit op: “Dit was groepsdruk en ons is oortuig daarvan dat hy forseer is om die dwelm te rook.” Die vyf, wat anoniem wil bly, verduidelik hoe hulle verlede Donderdag besluit het om by ‘n restaurant hul goeie uitslae te vier.
“Ons het nog amal saamgekuier en omstreeks 20:00 het hy ons verlaat. Ek het na my huis teruggekeer en hom op een van die beddens aangetref. Ek het gesien hy haal moeilik asem, maar het nie geweet hoe ernstig dit was nie,” vertel die seun. Hy noem dat hy om 02:00 weer na sy vriend gaan kyk het en opgemerk het dat hy nie meer asemhaal nie. “Ek het my ouma geroep, wat ‘n afgetrede suster is. Sy het bevestig dat hy dood is.”
Hulle het dadelik die oorledene se ouers in kennis gestel sowel as die hospitaal en polisie. Die kind vertel dat twee polisiebeamptes opgedaag het, maar nie eens moeite gedoen het om sy verklaring af te neem nie. “Die polisie hier beteken niks. Die enigste tyd wanneer hulle miskien iets doen is as daar ‘n huisbraak was, en selfs dan volg hulle nie die saak op nie.”
”Ons wil so graag hê dat die polisie ons help om hierdie mense te arresteer, want alleen kan ons niks teen hulle doen nie.” Die seuns vertel dat ongeveer 60 persent van die mans in Mashishing hierdie spesifieke dwelm, beter bekend as Nya-ope, gebruik en dat daar tussen vier en vyf aktiewe dwelmhandelaars in Mashishing is, waarvan een ‘n Nigeriër is.
Volgens hulle is dit ‘n bruinerige dwelm wat gerook of ingespuit kan word en wat onder andere Rattax bevat. “Hier is vreeslik baie mense wat dit gebruik en hulle is veral aktief op reënerige dae.”
Volgens hulle word die meerderheid van die dwelmverbruikers gekoppel aan rooftogte en inbrake. Volgens Kolonel Chris Heymans van die SAPS word daar veral op platskerm televisies toegeslaan. Heymans verduidelik dat daar ‘n wit poeier binne die televisietoestel is wat gebruik word as ‘n dwelmbestandeel.
Volgens hom is dit dieselfde poeier wat gebrand word tydens rooftogte om te verseker dat mense nie wakker word nie. “Lydenburg is beslis die dwelmmekka,” voeg hy by. Volgens Heymans is Nya-ope ‘n bossie wat in die omgewing groei en wat somtyds met grandpa-poeier gemeng en dan gerook word.
Die seuns meen dat mens onmiddellik kan opmerk wanneer ‘n persoon die dwelm gebruik het, veral aan sy gedrag. “Hulle loop, reageer en praat verskriklik stadig en dit lyk byna asof hulle in hulle slaap loop.”
Volgens die seuns is die gemiddelde ouderdom wanneer daar met dwelms eksperimenteer word, ongeveer 15 jaar oud. “As jy weier om dit te gebruik, word jy as nie cool nie, bestempel, maar ons wil net hê dit moet stop.
Ons ouers dink dat ons ook nou dwelms gebruik omdat ons vriend daaraan dood is, maar dit is glad nie die geval nie. Ons is kwaad en bang vir hierdie mense wat soveel onskuldige mense se lewens verwoes.” Die oorledene se begrafnis vind Saterdag plaas.
