Man se moord skok gemeenskap
LYDENBURG – Slegs 19 dae voor Kersfees is ‘n 28-jarige man se lewe tragies kortgeknip. Mnr. Tinus Mynhard is verlede Vrydag glo sewe keer van voor geskiet tydens ‘n mislukte kaping. Mynhard het glo dié betrokke aand saam met vriende gekuier. Toe hy die volgende oggend nie vir sy werk as voorman by Twee Riviere …
LYDENBURG – Slegs 19 dae voor Kersfees is ‘n 28-jarige man se lewe tragies kortgeknip.
Mnr. Tinus Mynhard is verlede Vrydag glo sewe keer van voor geskiet tydens ‘n mislukte kaping.
Mynhard het glo dié betrokke aand saam met vriende gekuier. Toe hy die volgende oggend nie vir sy werk as voorman by Twee Riviere myn opdaag nie, het besorgde vriende en kollegas begin ondersoek instel.
Vriende het met skok en afgryse by die polisie verneem dat hy dieselfde aand slegs drie kilometer buite die dorp op die Burgersfortpad vermoedelik vermoor is.
Kapt. Sedibe van die SAPS het die voorval bevestig. “Die insident het Vrydag omstreeks 22:00 plaasgevind Lydenburg/Burgersfortpad net na die Skhila brug. Inwoners het glo die geweerskote gehoor en die polisie in kennis gestel. Toe lede van die polisie opdaag het hulle op sy liggaam afgekom.”
Hy bevestig dat verskeie lee magasyndoppies by die toneel gevind is. “Ons kan op die stadium nog nie bekend maak hoeveel verdagtes voortvlugtig is nie. Ons is ook nie seker watter items alles geroof is nie.”
Die koerant het egter verneem dat slegs ‘n selfoon en kontant uit sy beursie gesteel is. Die verdagte(s) kon glo nie daarin slaag om die voertuig aan die gang te kry nie.
Mynhard was ses jaar gelede ook in ‘n ondergrondse mangaangas-onploffing by ‘n Rustenburg-myn, waar hy voorheen gewerk het, betrokke. Hy het toe die dood net vrygespring.
Dit is nog nie seker hoekom Mynhard die betrokke aand op dié pad was nie. Dis ook nie duidelik of hy self net na die brug van die pad af getrek het nie en of hy moontlik tot stilstand gedwing is nie.
Teen Maandag het verskeie mense op sy Facebook-gedenkblad boodskappe geplaas. Daar is ook reeds ‘n ruiker op die toneel gelê.
Een van die inskrywings op die blad lui; “Ek dink in gebed aan julle. Het nie vir Tinus geken maar eks geskok en hartseer dat sulke dinge in ons omgewing gebeur. Baie sterkte vir julle.”
Mnr. Gerhard Rossouw, ‘n vriend en kollega van Mynhard, meen dat almal wat hom geken het kan getuig van die wonderlike mens wat hy was. “Almal praat net goed van hom. Ek het nog nie ‘n meer positiewe mens in my lewe teegekom nie. Hy sou vir vriende en vreemdelinge deur vuur loop.”
Sedibe het bevestig dat ‘n saak van moord geopen is. Enige iemand wat moontlik inligting rakende die voorval het, word versoek om Lydenburg SAPS by 013-235-1311 te kontak.
Rossouw het ook ‘n beloningvan R10 000 uitgereik vir enige inligting wat kan lei tot die arrestasie van die verdagte(s). Rossouw kan by 082-909-5966 gekontak word.
