Hard newsNewsNews

Verdrinkings hou polisie-duikers besig

Op 31 Desember is hulle ontbied na Culcatta waar 'n 12-jarige kind in die Sabie-rivier verdrink het. Hierdie kind se liggaam was teen druktyd nog soek

NELSPRUIT – Die plaaslike watervleuel van die polisie moes die afgelope feesseisoen bontstaan om 29 liggame  te herwin. Die meerderheid van die slagoffers het verdrink, hoewel twee van hulle hul vermoedelik doodgeval het.

Hulle kon gelukkig ook mense red wat in vloedwaters vasgekeer was.

Dit was ‘n besige tyd vir kapteine Pottie en Joey Potgieter en ao. Danie Theron, asook die vrywilligers van Off-road Rescue Unit (Orru) wat hulle bystaan. Hulle is slegs drie dae in Desember nié uitgeroep na tonele nie.

Die drama het op 3 Desember begin toe Bethal en Kriel in die Hoëveld swaar reën gekry het. Pottie en sy span is na Kriel ontbied waar hulle die liggaame van twee mense wat verdrink het moes uithaal. ‘n Derde persoon kon in ‘n boom skuil en is gelukkig gered. In Bethal moes hulle 10 prostitute van ‘n bordeel se dak red wat hier skuiling gesoek het nadat die perseel oorstroom het. Dieselfde dag is nog twee liggame in Standerton uit ‘n rivier gehaal en vyf mense is gered.

Op 9 Desember is nog ‘n verdrinkte se liggaam in Kriel herwin, asook een op Kinross. Nog twee mense is in Elukwatini gered. Op 14 Desember moes hulle die liggaam herwin van iemand wat in die Mac Mac poele verdrink het en ‘n tweede by Mac Mac op die 16e. Op 18 Desember is ‘n liggaam uitgehaal in Mayflower en twee dae later, een in Middelburg en nog een op Standerton.

Op 23 Desember is ‘n lyk uit ‘n dam by Trichardt gehaal en een in Matsulu. Op 27 Desember moes hulle terug na Kriel waar nog ‘n persoon verdrink het en die volgende dag is hulle na Matsulu ontbied vir nog ‘n verdrinking.

Daar was ook ‘n verdrinking die 29ste in Tweefontein. Op 31 Desember is hulle ontbied na Culcatta waar ‘n 12-jarige kind in die Sabie-rivier verdrink het. Hierdie kind se liggaam was teen druktyd nog soek. Daar word vermoed dat dit dalk onder ‘n swaar voorwerp onder die water vassit en die polisie-duikers soek onverpoosd na hom.

Op Nuwejaarsdag het die span duikers ‘n man se liggaam in Secunda gaan herwin. Hy het kopbeserings gehad en ‘n moorddossier is geopen. Dieselfde dag het twee bote op ‘n dam naby Middelburg in mekaar vasgery. Niemand het verdrink nie, maar die span is nog nogtans ontbied om bystand aan die beseerde passasiers te verleen. Hulle het intussen nog steeds na die kind wat by Culcatta verdrink het, se liggaam gesoek.

Op 2 Januarie het ‘n man wat na bewering ‘n huis in ‘n informele nedersetting naby Sabie aan die brand gesteek het, hom doodgeval toe hy weghardloop het van woedende lede van die gemeenskap wat hom agterna gesit het. Hy het in sy haas by ‘n krans afgeval en Pottie-hulle moes sy liggaam na bo bring.

Nog ‘n persoon het op 4 Januarie in Delmas verdrink en die duikers het sy liggaam die volgende dag opgespoor. Dieselfde dag is ‘n man se lyk uit die Komatirivier naby Mooiplaas gehaal. Later daardie middag, is hulle ontbied na Waterval Boven waar ‘n man en sy hond van ‘n hoë krans afgeval het. Daar word vermoed dat die man hom doodgeval en nie verdrink het nie. Die hulp van die polisie se lugvleuel is ingeroep om die liggaam na bo te bring.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button