
KIEPERSOL – ‘n Man het gistermiddag aan sy wonde beswyk nadat hy Saterdagaand op ‘n plaas in die omgewing deur ‘n seekoei gebyt is. Sy beserings was baie ernstig en sy ingewande het by gapende wonde aan sy maag uitgepeul.
Paramedici is omstreeks 21:15 na die toneel ontbied. Dit is nie duidelik wat presies tot die voorval aanleiding gegee het nie. Daar is op die toneel gesê dat hy moontlik deur meer as een seekoei aangeval is. Die slagoffer, in sy 30’s, is met ernstige beserings na Rob Ferreira Hospitaal op Nelspruit gebring.
Mnr. Dries Pienaar van Mpumalanga Toerisme en Parke-agentskap, het by navraag gesê dat hy van die voorval bewus was. “Die dier is vermoedelik terug na die rivier, maar ons wag vir ‘n verslag van die boer, ingeval die seekoei hom dalk in ‘n plaasdam tuismaak. Daar is baie seekoeie in die omgewing en ons weet nie watter een aangeval het nie.”
Mnr. Ronnie Masilela, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, het bevestig dat die man in Rob Ferreira opgeneem is. Laevelder was nog besig om navraag oor sy welstand te doen, toe Masilela die koerant meedeel dat hy dood is.
