Hard newsNewsNews

‘Dokter’ maak amok in die stad

'n Man wat aangevoer het dat hy 'n dokter is, het laatnag 'n groot amok in Nelspruit se strate veroorsaak.

NELSPRUIT – ‘n Man het die naweek ‘n klag van aanranding teen Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit aanhangig gemaak, nadat hulle hom na ‘n jaagtog geboei het.

Mnr. Nico Grobler, operasionele hoof van Hi-Tech het vertel dat hulle Saterdag in die vroeë oggendure ‘n oproep van een van die bestuurders van The Jock ontvang het.

Mnr. Morgan Jenkins het vertel dat hy die klant, wat gesê het dat hy ‘n dokter was, in die parkeerterrein probeer voorkeer het, nadat hy nie sy rekening van ongeveer

R3 000 betaal het nie. “Hy het saam met vriende gekuier, maar hulle het hulle s’n vereffen voor hulle vertrek het.

“Die ‘dokter’ het vyf bottels Moët bestel. Hy het geweier om te betaal en het aggressief geraak. Ek het hom na sy voertuig gevolg, waarna hy in trurat in my vasgery het. Ek het op die enjinkap gespring en ongedeerd daarvan afgekom. Daarna het hy weggejaag.”

Jenkins het Hi-Tech ontbied en die beamptes het gepoog om die man by die Shell-vulstasie oorkant Jock te arresteer. “Hy het egter een van hulle skrams getref,” het Grobler vertel. “Hy het op nog ‘n beampte afgepeil voor hy regs in Ferreirastraat ingedraai het. Toe hulle hom agternasit, het hy ‘n U-draai gemaak en aan die verkeerde kant van die pad op hulle afgejaag.”

Die man het egter daarin geslaag om Hi-Tech te ontduik en het in die rigting van Steiltes weggejaag. Hulle het hom in Melkwegstraat afgekeer. Grobler het gesê dat die ‘dokter’ hom teëgesit het toe hulle hom wou boei.

‘n Ooggetuie het vertel dat hy ongeveer 02:30 ‘n voertuig in die doodloopstraat (Melkwegstraat) waar hy woon, hoor injaag het.

“Ek het gehoor hoe ‘n skoot in die lug afgevuur word voor ek uitgegaan het om ondersoek in te stel. Ek het gehoor hoe hy vir die beamptes sê dat hy ‘n dokter met baie geld is.”

Volgens die ooggetuie het die man ‘n swart Mercedes-Benz G bestuur. Hy het glo ook die sekuriteitsbeamptes gevloek. “Hy was beslis onder die invloed, volgens al die stories wat hy kwytgeraak het voor die polisie opgedaag het.”

Die man is in sy eie voertuig na die polisiestasie geneem, waar Jenkins ‘n klag van roekelose bestuur, en die man op sy beurt een van aanranding teen

Hi-Tech gelê het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button