Editor's choiceHard newsNewsNews

Leeu-video uit KNP skok kykers

Die gedrag van ouers wat hul kinders se lewens in gevaar stel in die KNP word sterk veroordeel.

SKUKUZA – Besoekers aan die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) raak al hoe makker tussen die wilde diere. Nóg ‘n video van besoekers wat dit gevaarlik naby aan die diere waag, het hierdie week opslae gemaak toe dit op sosiale media versprei is.

Die video is op 18 Januarie op YouTube gelaai. Dit is nie duidelik wanneer en waar in die wildtuin dit geneem is nie. Dit wys hoe ‘n Wit Hyundai met Gautengse nommerplate stop sowat twee meter van ‘n reuse mannetjieleeu af wat in die teerpad lê, stop. Twee jong kinders hang dan soos vinke by die voertuig uit om foto’s met slimfone en tablette te neem.

Die leeu se stert begin dan rondswaai en hy spring ewe skielik op en gee ‘n brul in hulle rigting om sy irritasie te kenne te gee. Die kinders skrik en trek hul lywe terug in die motor in. Die leeuwyfie wat langs die mannetjie gelê het staan dan saam met die mannetjie op en loop weg. Daar kan duidelik op die video gehoor word hoe ‘n vrou sê: “Ja, dis julle”. Dit is duidelik dat sy na die kinders verwys.

Leeu is koning van die diere vir ‘n rede

Mnr. Danie Pienaar, hoof van wetenskaplike dienste in die wildtuin, het by navraag gesê dat mense nie besef hoe vinnig leeus kan beweeg nie. “Leeus kan 100 meter in net vier sekondes aflê. As ek na hierdie video kyk, sou dit die leeu net 0,2 sekondes gevat het om by die kinders uit te kom. Hulle sou nie eers tyd gehad het om die venster toe te maak nie.

“As mense in hul voertuig bly, identifiseer leeus hulle nie met mense nie. Maar die oomblik wat daardie lyn oorgesteek word, soos wanneer iemand by die venster uithang, of in die sondak van ‘n motor staan, sien die leeu hulle as mense. Dit is uiters gevaarlik vir besoekers om nie die reëls van die park te gehoorsaam nie. Wilde diere moet gerespekteer word en glad nie uitgetart word nie,” het hy gewaarsku.

Wat staan die wildtuin te doen

Die wildtuin se reëls word duidelik op toegangspermitte aangedui, asook op televisieskerms in ontvangareas by die onderskeie hekke. Daar word uitdruklik genoem dat besoekers nie by voertuie se sondakke of vensters mag uithang nie. Laevelder het navraag oor die voorval by mnr. Reynold Thakhuli, ‘n woordvoerder van SANParke, gedoen. “Ons het eers van die voorval te hore gekom toe die video op sosiale netwerke versprei is en die media navraag gedoen het. SANParke self word dikwels nie van hierdie voorvalle ingelig nie.”

Mnr. Ike Phaala, nog ‘n SANParke-woordvoerder, het bygevoeg dat besoekers aan die wildtuin onmiddellik sondebokke aan hulle moet uitwys. “Ons het ‘n 24-uur noodgeval-nommer wat op elke toegangspermit aangedui word en ons vra besoekers om dit asseblief te skakel en ons in te lig as daar mense is wat die reëls oortree.”

Mnr. William Mabasa, ‘n woordvoerder van SANParke wat in Skukuza gestasioneer is, het bygevoeg dat hulle in die proses is om die Hyundai se nommerplate na te gaan om die eienaars op te spoor. Hulle sal dan ‘n gepaste boete opgelê word. Phaala het verduidelik dat SANParke slegs by magte is om ‘n maksimum-boete van R1 500 uit te reik. “Anders moet daar ‘n klag by die polisie gelê word en die saak moet sy gang gaan sodat ‘n landdros ‘n strenger straf of groter boete kan oplê.”

 

https://youtu.be/9-oIpyOUA88

 

Gaan kyk gerus na ons beriggewing oor die olifant-insident in die KNP wat ook op video vasgelê is hier en deel jou olifantstorie met ander.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button