Mak gedrag by leeus ontstel
Ouers stel hul kinders se lewens in gevaar
Besoekers aan die Nasionale Krugerwildtuin raak al hoe makker tussen die wilde diere. Nóg ‘n video van besoekers wat dit gevaarlik naby aan die diere waag, het opslae gemaak toe dit op sosiale media versprei is. Dit is op 18 Januarie op YouTube gelaai. Dit is nie duidelik wanneer en waar in die wildtuin dit geneem is nie. Dit wys hoe ‘n Wit Hyundai met Gautengse nommerplate sowat twee meter van ‘n reuse-mannetjieleeu wat in die teerpad lê, stilhou.
Twee jong kinders hang dan soos vinke by die voertuig uit om foto’s met slimfone en tablette te neem. Die leeu se stert begin rondswaai en hy spring ewe skielik op en gee ‘n brul in hul rigting om sy misnoeë te kenne te gee. Die kinders skrik en trek hul lywe terug.
Die leeuwyfie wat langs die mannetjie gelê het, staan daarna saam met die mannetjie op en loop weg. Daar kan duidelik op die video gehoor word hoe ‘n vrou sê: “Ja, dis julle.” Dit is duidelik dat sy na die kinders verwys.
Mnr. Danie Pienaar, hoof van wetenskaplike dienste in die wildtuin, het by navraag gesê dat mense nie besef hoe vinnig hierdie diere kan beweeg nie. “Leeus kan tot 100 meter in net vier sekondes aflê. As ek na hierdie video kyk, sou dit die dier net 0,2 sekondes geneem het om by die kinders uit te kom.Hulle sou nie eers tyd gehad het om die venster toe te maak nie.”
“As mense in hul voertuig bly, identifiseer leeus hulle nie met mense nie. Maar die oomblik wat daardie lyn oorgesteek word, soos wanneer iemand by die venster uithang, of in die sondak van ‘n motor staan, sien die leeu hulle as mense. Dit is uiters gevaarlik vir besoekers om nie die reëls van die park te gehoorsaam nie. Wilde diere moet gerespekteer word en glad nie uitgetart word nie,” het hy gewaarsku.
Mnr. Ike Phaala, nog ‘n SANParke-woordvoerder, het bygevoeg dat besoekers aan die wildtuin onmiddellik sondebokke aan hulle moet uitwys. “Ons het ‘n 24-uur noodgeval-nommer wat op elke toegangspermit aangedui word en ons vra besoekers om dit asseblief te skakel en ons in te lig as daar mense is wat die reëls oortree.”
Mnr. William Mabasa, ‘n woordvoerder van SANParke wat in Skukuza gestasioneer is, het bygevoeg dat hulle in die proses is om die Hyundai se nommerplate na te gaan om die eienaars op te spoor. Hulle sal dan ‘n gepaste boete opgelê word. Phaala het verduidelik dat SANParke slegs by magte is om ‘n maksimum-boete van R1 500 uit te reik. “Anders moet daar ‘n klag by die polisie gelê word en die saak moet sy gang gaan sodat ‘n landdros ‘n strenger straf of groter boete kan oplê.”
Mnr Johan Bosch, operasionele bestuurder Child Welfare SA Wite River was geskok toe hy die video sien. “Ouers het die verantwoorlkheid om hulle kinders te alle tye teen alle moontlike gebeure te beskerm. In die geval tree die ouers onverantwoordelik op om hulle kinders so aan ‘n willde dier bloot te stel. Leeus is gevaarlike diere en dus moet besoekers by die reëls en regulasises van die park hou om sodoende te vermy dat hulle deur die diere beseer word.”
Die wildtuin se reëls word duidelik op toegangspermitte aangedui, asook op televisieskerms in ontvangareas by die onderskeie hekke. Daar word uitdruklik genoem dat besoekers nie by voertuie se sondakke of vensters mag uithang nie.
