Laerskool Barberton geniet die Interlaer terdee
Die verrigtinge het al vroeg begin met die dirigente en hul onderwysspan, Rina Bester, Susan Schoeman, Ina Austin, Madelein Luyt en Lourenca Meerholz wat reeds teen 05:00 Hoërskool Rob Ferreira toe vertrek het.

Die verrigtinge het al vroeg begin met die dirigente en hul onderwysspan, Rina Bester, Susan Schoeman, Ina Austin, Madelein Luyt en Lourenca Meerholz wat reeds teen 05:00 Hoërskool Rob Ferreira toe vertrek het. Bester het die dirigente se fraai klere met ‘n Swinging ’60s-tema gemaak, terwyl die ander onderwysers die rasie-leiers en ondersteuners afgerig het.
Die leiers was Carmen Bronkhorst, Keanu Markgraaff, Victor Kwela, Nicolani von Burick, Prosperity Ngomane, Lwazi Zwane en Goodness Sambo.
Die beamptes is met ontbyt uit die boonste rakke bederf en het selfs goue medaljes vir hul harde werk ontvang. Die bewolkte dag was perfek en het gesorg dat die deelnemers en geesdriftiges nie te erg onder die son deurgeloop het nie.
Laerskool Witrivier se tema was “bos” of “Big 5” en so het 4×4-wildbesigtigingsvoertuie met ‘n paar wilde “diere” die optog meegemaak terwyl die veld met feitlik lewensgrootte diere versier was – vanaf ‘n olifant tot ‘n kameelperd. Elke skool het hul skoollied gesing en Barberton se 85 atlete het hard genoeg gesing sodat almal hulle oral op die veld duidelik kon hoor.
Die ondersteuners het later ook duidelik hul stemme laat hoor en het hul uitstekend van hul taak gekwyt, in so ‘n mate, dat hulle die ouers, beamptes en medeleerders amper doof gehad met hul goed geoefende liedjies, bewegings en mannewales.
Middagete vir die beamptes en eregaste was boerekos en uit die boonste rakke.
Die atlete, onder leiding van hul spanbestuurders, Johan en Claudia Matthee en Tian Schoeman was in goeie hande. Hulle het hul goed gedra en hul beste gelewer. “Baie dankie ook aan Jarred Anderson, Basie Cremer and Stefan Snyders, leerders van Laerskool Barberton wat fotograaf gespeel het,” sê Herbert Otto.
Die atlete het die volgende medaljes huis toe gebring:
Lindelwa Ntuli – eerste, verspring, dogters 12 jaar.
Karabo Ntshasa – eerste, 150m seuns 12 en derde plek in die 100m
Bandile Mabuza – eerste, hoogspring, seuns 12
Tuane Silver – tweede, gewigstoot, dogters 10
Grant de Jager – derde plek, 80m, seuns 10.
Die hoof van Laerskool Barberton, Robert Naudé, het die volgende gebeure gehad: “Dit was ‘n opwindende dag vir al ons kinders wat ons na aan die hart lê. Uitstekend beplan, uiters suksesvol afgehandel en ‘n plesier vir almal. Geluk aan Frannie van der Riet en sy span met hul spogbyeenkoms. Baie geluk ook met hul 110de bestaansjaar.”
