‘n Baie moeilike totsiens
Ons sê hartseer totsiens aan die Malalane Rugbyklub-afrigter Riaan Pienaar en sy regterhand Zelda.

MALALANE – Ons sê hartseer totsiens aan die Malalane Rugbyklub-afrigter Riaan Pienaar en sy regterhand Zelda. Riaan se loopbaan neem hom nou na KwaZulu-Natal maar hy wil hê die klub moet voortgaan en die rugbygemeenskap wys waarvan hulle gemaak is.
Hulle het die volgende boodskap aan speler en aanhangers gestuur:
Hiermee wil ons vir al die spelers, borge, ondersteuners en vriende baie, baie dankie sê vir al julle liefde, omgee, hulp en bystand die afgelope paar jaar wat ons in die gemeenskap gewoon het en by Malalane Rugbyklub betrokke was.
Die afgelope paar jaar het ons soos ‘n groot familie geword en ons gaan julle vreeslik baie mis. Ons het ‘n pad met die spelers gestap en hulle het diep in ons harte ingekruip en almal het beslis spore in ons harte nagelaat. Party dae was moeiliker as ander en ons het baie kop gestamp totdat almal op dieselfde bladsy was en dieselfde droom en visie begin deel het. Ons geskiedenis kan defnitief hiervan getuig:
2009- Malelane is 9de op die punteleer
2010 – Wen die onderste 5-liga gewen.
2011 – Eindig 3de.
2012 – Eindig 2de.
2013 – Aangewys as beste klub, 1ste in die Laeveld en 2de in Mpumalanga.
Ek wil vir oulaas ‘n versoek aan al ons spelers rig om aan te hou speel. As dit in jou bloed is wil jy tog nie by die huis sit en niksdoen nie?
Ek weet ek was ‘n baie harde en streng afrigter gewees maar die resultate spreek vanself en ons het saam ‘n wenkultuur gekweek.
Ons is ‘n rugby-familie en kan nie nou gaan lê nie. Ons gaan definitief nie nou al ons harde werk in die water gooi nie.
Ons is wenners en beter as enige ander span in die Laeveld maar dis nou tyd dat ons moet saamstaan en wys wat in ons steek.
Al is ons nie meer in Malalane nie bly julle ons baie na aan die hart.
Daar is geen ander klub soos dié nie, en daar is ook geen ander plek waar julle moet of kan gaan speel nie. “Hierdie is ons klub, bulle, en dis waar die dinge gebeur en geskiedenis gemaak word.
Ons gaan weg met die troos dat die klub sal voortgaan en ons weet die gemeenskap sal nie die spelers net los nie. Hulle sal, soos in die verlede, by die spelers staan en hulle elke Saterdag op die veld ondersteun.
Ons het baie goeie spelers maar hulle het elkeen se ondersteuning nodig.
Hou Malalane se naam hoog soos net ons gemeenskap dit kan doen!
