NELSPRUIT – ‘n Man wat al die afgelope drie jaar in Nieu-Seeland woon het Woensdagoggend sy kruisie hier getrek.
Mnr. Danie Snyman het Suid-Afrika nie spesiaal kom besoek om te stem nie, maar het sy dogter se troue kom bywoon. “Ek het toe my dinge so gereël dat ek ook kon kom stem,” het hy in die ry by Laerskool Bergland aan Laevelder vertel.
Snyman het verduidelik dat hy en sy vrou aanvanklik oorweeg het om in die buiteland hul stemme uit te bring, maar die logisitiek rondom die troue het dit verhoed. Sy is ook al intussen terug en kon dus nie stem nie.
Dit was egter vir Snyman belangrik, aangesien hulle nog ‘n belang in die land het. Sy kinders en ander familielede woon nog in Suid-Afrika en hulle het nog nie die moontlikheid uitgesluit om eendag terug te keer nie.
Hulle het egter geëmigreer omdat hy gevoel het dat die land op die verkeerde pad is. “Ek het toe ons weg is, vir een van my vriende my epos-adres gegee en gesê hy moet my bel as dinge regkom, maar ek kon nie daarvoor wag nie. Ek hoop egter steeds van harte dat dit sal gebeur.
Snyman wou pertinent ook sy provinsiale stem uitbring. “Ek is oortuig dis belangrik om ons bydrae ook hier te maak. My benadering is om te doen wat jy kan doen. Hierdie is een van daardie geleenthede en ons het ‘n bydrae wat ons kan maak, selfs al is een stem maar net een van ‘n paar milljoen.”
“As ons nie ons regte wat ons het gebruik nie, wat help dit? Dit is my benadering, doen wat jy kan doen.”
Snyman moes egter dieselfde dag nog ‘n vlug Durban toe haal om vir sy ander kinders te gaan kuier voor hy sou terugkeer na Nieu-Seeland en hy het gesê hy sou nie later as 08:00 in die ry kon bly wag nie. Hy was so net na 07:00 in die ry voor die skool, en het om 07:55 uitgestap, klaar gestem, op pad terug oor die water.
