MBOMBELA – Die polisie se maandelange ondersoek na die boosdoeners wat ‘n inwoner van Burnside ure lank gemartel en onder meer met ‘n strykyster gebrand het, het uiteindelik vrugte afgewerp toe die verdagtes Dinsdagaand vasgetrek is.
Me. Christine Otto (75) wat 43 jaar lank in Burnside woonagtig was, is op 20 Maart buite haar huis oorval toe sy na die reënmeter gaan kyk het. Sy sou na ‘n familievriend se begrafnis gaan en het nog later die aand moedig aan Laevelder vertel: “Ek was op pad na ‘n begrafnis, maar amper was dit tyd vir my eie een.”
Otto is dié dag deur drie gewapende mans oorval. Hulle het haar die huis ingeboender en vasgebind. Hulle het die huis geplunder en Otto aanhoudend gevra vir die sleutels tot haar kluis. Hulle het later tot grusame geweld oorgegaan en haar met die vuis, ‘n sweep en ‘n tou met metaalklinknaels aangerand. Sy is ook later met ‘n vuurwarm strykyster op die bobene gebrand.
Otto het uiteindelik aan hulle gesê waar die kluis se sleutels was en hulle het met haar haelgeweer, ‘n pistool en andere goedere in haar Kia op die vlug geslaan. Otto kon haarself met ‘n groot gesukkel loswoel, die panniekknoppie aktiveer en hulp ontbied.
Nelspruit se speurders en die sogenaamde Trio Crime Task Team het sedert die voorval onverpoosd na die boosdoeners gesoek. Hulle het drie mans Dinsdagaand in onder andere Pienaar en Masoyi aangekeer. Die wapens en Otto se verkyker en selfoon is onder andere in hulle besit gevind. Die Kia is ook in Kabokweni opgespoor.
“Kol. Erhard Ströh en sy manne het baie goeie werk gedoen. Die speurders, in samewerking met die sogenaamde Trio Crime Task Team, is alles te danke aan goeie speur- en ondersoekwerk,” het kol. Gerrie Agenbag, Nelspruitse speurhoof, opgemerk. Hy het bygevoeg dat hulle besig is om te kyk of hulle die verdagtes met ander voorvalle kon verbind.
Hulle sou na verwagting Vrydag in die hof verskyn en word aangekla van huisroof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.
