
MBOMBELA – ‘n Saak van aanranding word teen ‘n polisieman ondersoek nadat hy glo ‘n vrou by haar werk aangeval het. Me. Amanda Botha, ‘n sekretaresse by ‘n voertuigbatterywerkswinkel in Witrivier is op 30 Mei glo deur die konstabel te lyf gegaan.
Sy het vertel dat die man, wie se identiteit aan die koerant bekend is, haar die Vrydag 13:30 aangeval het. Hy is na wat verneem word in eMalahleni (Witbank) gestasioneer en ‘n gereelde klant van die winkel.
Volgens Botha het die werkswinkel sy voertuig herstel. Hy het R2 000 met sy kaart betaal, ‘n deel van die bedrag wat hy verskuldig was, en het uitgeloop om na die kar te gaan kyk. Toe hy terugkom, was Botha op die telefoon met ‘n ander klant.
“Hy het vir my gesê ek moet die foon neersit want hy was eerste hier. Ek sê toe vir hom ek wil net klaarmaak, dan help ek hom. Hy het geantwoord: ‘Hurry up, I must go back to court, I came here to attend a case’. Ek sê toe: ‘Wag net, ek is nou by jou’. Hy ruk toe die foon uit my hand en ek ruk dit terug en sê, ‘Wag net, jy is ongeskik, ek sal jou nou help’.”
Hy wou glo gehad het sy moes sy uitstaande saldo verminder en sy het verduidelik dat sy nie kan nie. “Hy ruk my toe halfpad oor die toonbank waar ek hom toe terugstamp en vra of hy mal is.”
Hy het glo gedreig om haar te verkrag en rassistiese skelwoorde gebruik. Hy het toe by haar kantoordeur ingehardloop en haar gestamp. Sy het op die vloer geval en in die proses het haar kop en skouer die tafel getref. Hy het toe glo bo-op haar geklim.
“Ek het hom op ‘n manier van my af weggestoot en ons staan toe op, maar toe bestorm hy my weer en begin my wurg.” Van die werkers het saam met ander van die winkel langsaan die man kom weggevat. Hy het haar toe glo met ‘n motoraansitter gegooi wat haar op die kakebeen, skouer en voorarm getref het. Hy het ook geskree: “Ek sal jou doodmaak, ek sê jou, dood!”
J&M Sekuriteit het haar na die polisiestasie vergesel waar sy ‘n verklaring afgelê het. Die man is ook na die stasie geneem, maar het daarna na die werkswinkel teruggekeer. Die polisie is weer ontbied en hulle het vir hom gesê hy moenie weer na die winkel toe kom nie.
“Hy het my en my gesin ook met ons lewens gedreig en gesê hy sal die werkers en my baas kom skiet,” het Botha bygevoeg.
Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder vir die SAPD, het gesê die polisie se onafhanklike ondersoekdirektoraat (Ipid) moet die saak behartig omdat die verdagte ‘n polisieman is.
Me. Grace Langa, waarnemende woordvoerder vir Ipid, het egter gesê hulle het geen rekord van die saak nie. Teen druktyd kon die ondersoekbeampte nie bevestig of die saak wel aangemeld is nie.
