Hard newsNewsNews

Si-kloon tref stad

Kaartklonery is weer aan die toeneem in die stad en kaartkloners is al hoe meer aktief.

Net toe inwoners begin vermoed dat kaartkloning in die stad hokgeslaan is, steek dit die afgelope naweek weer sy kop uit.

Me. Erika Bester het aan Nelspruit Post vertel dat haar poging om Sondagmiddag by Sonpark se Absa outomatiese tellermasjien (OTM) kontant te trek, geëindig het met R4 000 minder in haar bankrekening sonder dat sy enigiets in haar sak kon steek.

Sy vertel sy was alleen by die OTM toe sy haar kaart indruk. Sy het haar persoonlike identifikasienommer (PIN) ingesleutel, maar toe sy die bedrag wou intik, het dit nie gewerk nie. “Toe kom daar uit nêrens ‘n hand oor my skouer en druk ‘0’,” het sy vertel. “Toe ek omkyk, was daar ‘n netjies geklede man wat besig was om weg te stap.”

Dit het so vinnig gebeur dat sy, hoewel agterdogtig, nie seker was wat aan die gang was nie. “Skielik was daar ‘n vriendelike man langs my wat gevra het of alles reg is. Ek het geantwoord dat my kaart nie wil werk nie. Hy het besorgd geklink en my aangeraai om nog ‘n keer te probeer.”

Weereens kon sy nie die bedrag insleutel nie, want die “0” het nie gewerk nie. Dit was toe dat haar selfoon biep om haar van transaksies te verwittig. Volgens die SMS’e is twee transaksies gedoen, een van R1 000 en een van R3 000. Dit, terwyl haar daaglikse limiet R2 000 is.

Sy het onmiddellik die bank geskakel om die kaart te kanseleer. ‘n Sekuriteitswag het verby gekom, en sy het hom ook vertel wat gebeur het.

“Hoekom het mevrou nie alarm gemaak nie?” wou hy glo weet. Bester sê sy was te oorbluf. Die bank was baie behulpsaam en het na die sekuriteitskameras se beeld gekyk. Volgens haar kan jy duidelik op die kamera sien hoe die vriendelike man iets aan die goed geklede man oorhandig.

“Jy kan nie versigtig genoeg wees nie,” het sy gewaarsku. Die saak is by die polisie aangemeld.

Mnr. Jacques Meiring van Bossies Community Justice sê kaartklonery is inderdaad weer aan die toeneem in die stad en dat kaartkloners weer aktief is.

“Daar is soveel nuwe produkte wat hulle gebruik om kaarte te kloon. Mense is geneig om net vinnig geld te trek, dan let hulle nie op wat om hulle aangaan nie. As daar enigiets verdag is of as die OTM beskadig is, moet dit eerder nie gebruik nie. As iets gebeur, rapporteer dit onmiddellik.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button