Hard newsNewsNews

Bestuur het groot planne vir stadion

Mbombela Stadion is geen wit olifant nie.

MBOMBELA – Die bestuurder van Mbombela Stadion is vol moed om dit binnekort winsgewend te maak. Mnr. Roelf Kotze van Platinum Sport Consulting wat dit namens die munisipaliteit bestuur, sê die stadion het ‘n paar voordele bo die ander wat spesiaal vir die 2010 Fifa Wêreldbeker gebou is. “Elkeen het unieke voor- en nadele.”

Mbombela s’n is dat dit kleiner as ander stadions is, met net 43 000 sitplekke. Dis die enigste van sy soort binne ‘n 300 kilometer radius. Kotze se troefkaart is egter dat die Steval Pumas en Mpumalanga Black Aces dit hul tuisveld noem.

“Dis die enigste een wat twee anchor tenants het, wat die profiel verhoog.” Boonop speel hierdie spanne vanaf hierdie jaar in hul onderskeie ligas se top-reeks. Die Pumas het verlede jaar gekwalifiseer om in die Curriebeker te speel, terwyl die Black Aces ook in die premierliga speel. Soos Kotze verduidelik, hou dit verskeie voordele in.

“Belangstelling in ‘n wedstryd hang van die span se profiel af en die posisie wat dit op die puntelys beklee. Elkeen is nie noodwendig winsgewend nie, maar moet nogtans aangebied word.”

Platinum Sports se uitgangspunt is om sokkerwedstryde tussen Black Aces en kleiner spanne wat veral op ‘n weeksdag gespeel word, eerder na KaNyamazane Stadion (wat ook aan die munisipaliteit behoort) te skuif omdat dit goedkoper is.

In die topliga word hulle wedstryde ook op televisie uitgesaai en die advertensieborde wat rondom die veld verkoop word, word meer. Dit is een van die top twee bronne van inkomste vir Mbombela Stadion. Die ander is losieverkope.

“Toe ons die bestuur daarvan oorgeneem het, het ons vir die munisipaliteit gesê dat die proses om die stadion winsgewend te maak, tyd sou neem. Dit sou nooit een, twee, of slegs drie jaar geneem het nie. Ek dink ons kan dit binne die volgende jaar of twee vermag, of selfs gouer,” sê hy.

Een van sy planne is om advertensieborde ook op die kameelperde aan die buitekant te verkoop en ander funksies aan te bied. ‘n Sportsentrum is ook in die vooruitsigte.

Kotze se visie is dat die bedryf daarvan ten minste nie die munisi-paliteit of belastingbetalers meer geld kos nie. Die finansiële impak op ander bedrywe soos hotelle, winkels en vulstasies, moet ook nie uit die sig verdwyn nie, en as die stadion die trekpleister daarvoor is, is die saak reg.

Die Pumas en Black Aces se kontrakte is met die munisipaliteit, wat Platinum Sports ‘n vaste bedrag vir sy dienste betaal. Dit betaal ook tans maandeliks ongeveer R800 000 vir die instandhouding en bestuur van die stadion. Alle winste word in ‘n trust inbetaal en aan die einde van die finansiële jaar aan die munisipaliteit oorbetaal. Stadionbestuur kon aan die einde van die vorige finansiële jaar

R2,3 miljoen terugbetaal, wat die verlies op R7,3 miljoen te staan gebring het.

Dit kos Mpumalanga Rugby-unie baie geld om volgende naweek die toets tussen die Springbokke en Wallis aan te bied, omdat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie ‘n groot bedrag daarvoor vra. Die unie eien ook die advertensieborde tydens die wedstryd toe. Mbombela Stadion moet dus al hierdie kostes en moontlike winste uit kaartjieverkope verhaal. Boonop maak dit op sulke groot gebeurtenisse staat om die verliese van klein wedstryde uit te balanseer.

Kotze glo hul plan is op dreef om dié verlies jaarliks te verlaag, en sal na die toets die totale opbrengste vir hierdie finansiële jaar – wat aan die einde van die maand eindig – kan bepaal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button