
MBOMBELA – Die bestuurder van die Ford Ikon wat Saterdagaand in ‘n groot ongeluk by die Madiba/Samora Machel-kruising betrokke was, is Woensdagmiddag uit Mediclinic Nelspruit ontslaan.
Volgens mnr. Brian van den Bergh, was hy en sy meisie, me. Izandre Duvenhage, op pad huis toe vanaf Witrivier in Sonpark se rigting. Hy het begin stadiger ry toe hy sien die lig was nog rooi en toe weer versnel toe die lig groen geword het.
Hy het egter nie links of regs gekyk toe hy deur die kruising beweeg het nie en onthou net ‘n harde stamp teen sy deur en hoe hulle begin tol het. ‘n Swart Mazda en ‘n swart Audi, wat in die rigting van Malalane onderweg was, het teen die Ford gebots. “My seun is altyd wetsgehoorsaam, hy sou nooit oor ‘n rooi lig gery het nie,” het Van den Bergh se ma, me. Susan Oosthuizen, vertel.
Volgens ‘n ander familielid van Van den Bergh het die Mazda en die Audi baie vinnig gery en kon nie betyds stop nie. “Die bestuurder van die Audi het uitgeklim, ‘n foto geneem en weggehardloop,” het die familielid gesê. Volgens Van den Bergh was daar nie ‘n minibus betrokke nie, maar daar het wel een gestop net nadat die ongeluk gebeur het. “‘n Man het my meisie uit die kar gepluk en haar beursie en toe my selfoon gesteel.” Die man het later nege transaksies met Duvenhage se kredietkaart probeer maak, maar daar was nie geld in die rekening nie.
Polisielede het glo aan Van den Bergh gesê hulle kon nie inligting wat die bestuurder van die Audi aan hulle gegee het, bevestig nie. Van den Bergh het Maandagmiddag uit teater gekom en hy sterk stadig maar seker aan. Hy het sy bobeen en bekken gebreek. Hy het ‘n staal pen in sy bobeen en volgens sy dokter sal die bekken vanself weer vasgroei. Duvenhage het haar arm gebreek.
