Vol storie: Uitgeteerde jong hondjie se toestand heelwat verbeter
‘n Maer, uitgeteerde jong Boerboel het onlangs opslae gemaak toe foto’s van die dier se toestand op Facebook geplaas is.

LYDENBURG – ‘n Maer, uitgeteerde jong Boerboel het onlangs opslae gemaak toe foto’s van die dier se toestand op Facebook geplaas is.
Die koerant het ondersoek ingestel nadat verskeie lede van die publiek heftig oor die hond se toestand gereageer het. Volgens ingeligte bronne is die hond deel van ‘n werpsel van ses wat al vir die afgelope drie weke by ‘n troeteldierwinkel aangehou word.
Steelburger/Lydenburg Nuus het met mnr. Richard Parkinson, eienaar van die winkel, rakende die hond se toestand in verbinding getree.
Die publikasie het verskeie vrae aan hom gestuur om vir hom die geleentheid te bied om sy saak te stel. Parkinson het bevestig dat hy sal kommentaar lewer.
‘n Anonieme bron het aan die koerant vertel dat die eienaar van die winkel gesê het dat die hond so maer is omdat dit die laaste en kleinste van die werpsel is en nie ontwurm is nie.
“Hulle het glo dié honde by ‘n teler gekry. Die dier lyk nou blykbaar beter as toe sy daar aangekom het nadat hulle haar ontwurm het en probeer vet voer het.
Nadat die foto’s op Facebook gelaai is, wou ‘n vrou gaan kyk en het hulle toe die hond weggesteek dat mense haar nie sien nie. Die hond is op 12 Maart gebore volgens die papier agter die toonbank.
Ons het ook gevra of hulle die prys kan laat sak van R650 af omdat sy so sleg lyk en omdat daar baie kostes aan haar verbetering verbonde gaan wees. Parkinson het egter gese hy sal R50 afslag gee.”
Die hond was glo saam met ‘n Worshond in die hok en dié was groter en vetter as die Boerboel.
‘n Gereelde kliënt by die winkel vertel dat die diere glad nie na die veearts geneem mag word nie. “Parkinson koop self die medikasie vir inentings en ontwurmings.
Sover ek weet was Witrivier SPCA al twee keer van tevore daar. Elke keer was daar klagtes. In my opinie het die hond glad nie wurms nie. Indien dit so was, sou sy ‘n bultende pens gehad het.
Steelburger/Lydenburg Nuus het ‘n plaaslike veearts, me. Marietjie Malan ook geraadpleeg en sy meen dat dit wel kan dui op wanvoeding.
“Honde met wurms het opgeswole pense, die moontlikheid dat die hond ‘n ander siekte onderlede het, kan ook nie uitgeskakel word nie. Die feit bly egter dat die hond mediese hulp moes ontvang voor dit die punt bereik het.”
Alhoewel Parkinson teen druktyd nog nie gereageer het op navrae nie, het hy wel ‘n foto van die dier aangeheg waar dit blyk dat die hond in ‘n beter kondisie is.
Teen Maandag het die bron laat weet dat die hond, wat die bynaam “Charity” gekry het, wel ‘n huis gevind het. “Alhoewel sy nog klein is, is sy nie meer maer nie en baie spelerig.”
