Die naam, Nelspruit, blyk finaal iets van die verlede te wees. Daar is nie appél aangeteken teen die hofuitspraak wat die voormalige Nelspruit nou Mbombela laat heet nie.
Die Pretoria Hooggeregshof het op 8 Mei die Kruger Lowveld Chamber of Business and Tourism (KLCBT) se aansoek om Nelspruit se naamsverandering na Mbombela ter syde te stel, van die hand gewys.
Volgens me. Linda Grimbeek van die KLCBT het hulle 20 werksdae gehad om te appélleer, maar kon hulle nie genoegsame meriete daarvoor kry nie.
Die regter het bevind dat die sakekamer te lank geneem het om die aansoek te doen nadat die naamsverandering in 2010 in die Staatskoerant gepubliseer is. Mnr. Ruan Lottering van AfriForum, wat aanvanklik aangedui het dat hulle dit oorweeg om teen die uitspraak appél aan te teken, het ook vandeesweek gesê dit is ‘n verlore saak.
Grimbeek het gesê sy kon nie verder uitwei oor die KLCBT se beoogde appél teen die deel van die uitspraak wat hulle vir die kostes van die minister vir kuns en kultuur se saak verantwoordelik hou nie. Ons woon egter nou in Mbombela.
In siSwati verwys die woord na, rofweg vertaal – “‘n klein plekkie waar baie mense is”. Hans Bornman, skrywer van Pioneers of the Lowveld, wys egter daarop dat die woord ook na ‘n klei-bierpot verwys waaruit almal saamgedrink het as hulle by ‘n plek byeengekom het.
“Wanneer mense in ‘n gebied bymekaargekom het en daar net een pot bier vir die partytjie was, het die eienaar eerste gedrink. Die eerste mondvol het hy na links gespoeg en die tweede het hy na regs gespoeg en met die derde het hy sy kop opgetel en gesluk. Almal het dan gedrink. Mbombela is daardie pot se naam.”
Daar was ook ‘n trein wat daagliks tussen Mosambiek en Pretoria gereis het wat grappenderwys die Mbombela genoem is omdat dit dikwels oorlaai was.
Bornman voel die naam is gepas het vir die munisipaliteit en het dit aanvanklik voorgestel. “Dis ‘n baie gepaste naam waaronder al die verskillende munisipaliteite soos Nelspruit, Witrivier en Hazyview destyds onder een ‘bymekaargemaak’ is.” Die pot waarna hy verwys, is dieselfde een wat op die Mbombela Munisipaliteit se wapen pryk.
Hy het ook gesê dat hy die stadsvaders egter afgeraai het om die dorp dieselfde naam te gee en dat elke dorp, soos Kaapsehoop, sy eie identiteit moes behou. Hy wys daarop dat sy voorstel vir die munisipaliteit se naam ‘n manier was om die destydse lokasie te onthou: toe Nelspruit se munisipaliteit in 1912 gestig is, het die lokasie noord van die treinspoor en suid van die Krokodilrivier ontstaan en die inwoners het dit self Mbombela gedoop omdat daar soveel mense in so klein plekkie saamgewoon het.
“Die mense wat voorheen kon woon waar hulle wou, het die lokasie toe ook Mbombela gedoop. Hulle is later na KaNyamazane verskuif.”
Mnr. Braam Raubenheimer, destydse minister en medestigter van Laeveldtrust skryf in My Afrikaner Pad en Nalatenskap wat in 1999 uitgegee is, dat die swart werkers in Nelspruit nie behoorlik gehuisves is nie.
“Die swart werkers van die dorp was langs die Krokodilrivier hoofsaaklik noord van die huidige verbypad saamgehok in wat ons die lokasie genoem het.”
Hy is saam met dr. HF Verwoed (wat later eersteminister sou word) afgevaardig om na terreine vir swart dorpe te soek. “Dr. Verwoerd het dit met ons meegedeel dat hy die sogenaamde lokasie by Nelspruit as ‘n krotbuurt gesien het wat totaal onaanvaarbaar was.”
Volgens Raubenheimer wou die dorpsraad die mense skuif na waar die huidige Laeveld Landboukollege of Mpumalanga Universiteit gesetel is, maar hy het dit teengestaan omdat hy en die besproeiingsraad ‘n kanaalskema daar beplan het en dit vrugbare landbougrond was.
Die plaas Nyamazaan is toe aangekoop en die dorp KaNayamazane is gestig. “Al wat hulle moes doen was om vir huise in die nuwe woonbuurt aansoek te doen. Dit was die beleid op daardie stadium.”
Raubenheimer skryf verder hy het geen negatiewe terugvoer onvang nie, behalwe van werkgewers wat vir vervoerkostes
moes instaan.
Grimbeek sê dit gaan moeilik wees om die nodige inspirasie te kry om die pleknaam te bemark. “Ons is besorgd oor die finansiële impak wat die naamsverandering vir plaaslike besighede inhou.
“Die impak vir toerisme is dat toeriste geweldig geïnteresseerd is in die betekenis van plekname, en ons trots is op die diversiteit van ons ryk erfenis in dié verband, soos Mpumalanga wat beteken ‘plek waar die son opkom’ en Ehlanzeni wat ‘die Laeveld’ beteken, maar nie wanneer dit by Mbombela kom nie.”
Nelspruit is aanvanklik na die drie Nel-broers Gert, Louis en Andries vernoem. Hulle het aan die einde van die 19de eeu gedurende die winter vanaf die Hoëveld met hul skape en vee getrek om hulle in die Laeveld te laat wy. Hulle is in ongeveer 1884 deur die landmeters raakgeloop wat die Oostelike spoorlyn aangeteken het. Die stasie is later toe na die broers vernoem en Nelspruit is gebore toe dit in 1905 geproklameer is.
Grimbeek het daarop gewys dat hoewel daar baie besighede is wat die naam Nelspruit bevat en ‘n paar aangedui het dat hulle dit sal verander, dit nie nodig is om sulke name te verander nie. “Hulle kan steeds besighede hê wat die naam Nelspruit bevat.”
