Hard newsLocal newsNewsNews

Gesin in rou gedompel toe driejarige verdrink

'n Tragedie het Ngwenya Lodge, een van die gewildste oorde van die Univision-groep, laat Maandagmiddag getref.

KOMATIPOORT – ‘n Tragedie het Ngwenya Lodge, een van die gewildste oorde van die Univision-groep, laat Maandagmiddag getref. ‘n Driejarige seun het in een van die dammetjies beland en verdrink.

Mnr. Simon en me. Lize Lotz was saam met hul twee seuns, Marko (5) en Marius (3) by dié prag-oord, wat vanjaar weer as die beste in die groep gekies is. Simon se ouers het die gesin vergesel vir die tydjie van rus, wat wreed kortgeknip is. Hulle het egter ‘n dag na die voorval na Pretoria teruggekeer.

Marius het om ongeveer 16:00 verdwyn, waarna ‘n groot soektog geloods is. Daar is sowat ‘n uur en ‘n half na die kleuter gesoek, toe twee personeellede sy liggaam in ‘n vlak dam digby die eenheid waar die familie tuisgegaan het, ontdek het.

Personeel het saam met die ouers by die toneel gehuil en het hul deurentyd ondersteun. ‘n Bystander het dadelik begin om noodbehandeling toe te pas totdat Securicon Lowveld se paramedici kort daarna opgedaag het. Dit was egter tevergeefs.

Die oordbestuurder, mnr. Diederik Herholdt, het gereël dat een van die plaaslike predikante die gesin besoek om hulle by te staan met berading en gebed. Hy het ook gesorg dat personeellede wat by die soektog betrokke was, berading kry.

“Die Here moet ons help om hierdeur te kom, ek weet nie hoe ons dit gaan regkry nie. Ek en my man het albei bruin hare en bruin oë, en hier kom hierdie klein blonde koppie met blou ogies in ons lewens,” het Lize gesê. Volgens die ouers was hul kleinding bang vir water, en dit is tragies dat hy aan die einde van sy lewe sou kom juis op hierdie manier.

Die eenheid was deurentyd gevul met rou terwyl daar op die patoloog wat vanaf Tonga sou kom, gewag is. Marius het op ‘n matras onder ‘n rooi kombers, oënskynlik aan die slaap, gelê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button