Hard newsNewsNews

Wildsboer dalk in sop ná hy glo op helikopter skiet

Die saak sal dan na 'n staatsaanklaer gestuur word vir 'n beslissing. Dié sal besluit op watter klagtes die boer tereg sal staan. Dit kan wissel van die rig van 'n vuurwapen, die nalatige hantering van 'n vuurwapen, tot poging tot moord

PILGRIM’S REST – ‘n Wildsboer van die omgewing is dalk in die sop nadat hy Maandag na bewering op ‘n helikopter van Working on Fire geskiet het wat ‘n brand op ‘n naburige plaas bestry het. Hy kan selfs van poging tot moord aangekla word.

Die helikopter is nie getref of beskadig nie en die brand is onder beheer gebring. Volgens ‘n bron van die polisie op dié dorpie, het die voorval Maandag omstreeks 12:45 plaasgevind. “‘n Veldbrand het op ‘n plaas ontstaan en beamptes van Sappi het Working on Fire se mense in kennis gestel. Hulle het een van hulle helikopters na die toneel gestuur om die vuur onder beheer te bring,” het die bron gesê. Die helikopter het drie vragte water op ‘n buurman se plaas gaan skep en dié was woedend.

“Hy het verduidelik dat die betrokke dam nie standhoudend is nie en die enigste bron van water vir sy wild in die wintermaande is. Dit was volgens hom nie die eerste keer wat dit gebeur het nie.” Hoewel daar beweer word dat die boer op die helikopter geskiet het, hou hy glo vol dat hy net waarskuwingskote in die grond geskiet het.

“Almal se verklarings is reeds geneem behalwe dié van die verdagte. Sy regsverteenwoordiger is besig om hom daarmee te help. Die saak sal dan na ‘n staatsaanklaer gestuur word vir ‘n beslissing. Dié sal besluit op watter klagtes die boer tereg sal staan. Dit kan wissel van die rig van ‘n vuurwapen, die nalatige hantering van ‘n vuurwapen, tot poging tot moord,” het die bron verduidelik.

Die man se naam word dus weerhou omdat hy nog nie formeel aangekla is nie. “Burgerlugvaart is ook van die voorval in kennis gestel en ondersoek die saak,” het hy bygevoeg. Volgens die Nasionale Waterwet 36 van 1998, mag enige persoon in noodgevalle water van enige bron vir brandbestryding neem. Burgerlugvaartwet 13 van 2009 het ook duidelike riglyne hieroor.

Dit stipuleer dat iemand nie geweldadig mag optree en sodoende ‘n vlieënier se lewe of die veiligheid van die helikopter of vliegtuig mag bedreig nie. Jy mag ook nie met die vlieënier en ander beamptes in die helikopter se pligte inmeng nie. Dit stipuleer ook dat jy niks mag doen wat die helikopter of vliegtuig kan beskadig nie.

Die polisiebron het benadruk dat die helikopter en watersak nie beskadig is nie. Daar is nie op die vuurwapen beslag gelê nie. Dit mag dalk later, afhangende van die staatsaanklaer se beslissing, vir ballistiese toetse aangevra word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button