‘n Sogenaamde swendelaar is Donderdagmiddag na ‘n lokval deur die SAPD gearresteer. Volgens mnr. Jacques Meiring, van Bossies Community Justice (BCJ), is hulle deur ‘n bron in kennis gestel van die swendelaar wat homself as ‘n agent van die Mbombela Munispaliteit voordoen. Die bron het snuf in die neus gekry en dadelik BCJ gekontak.
Die verdagte het blykbaar ‘n gesprek afgeluister tussen die bron en ‘n kollega in ‘n kuierplek waar hy aan sy kollega gesê dat hy ‘n groot bedrag geld aan die munisipaliteit vir sy water- en elektrisiteit rekening moet betaal. ‘n Dag later het die verdagte, wat homself Jeff noem, die bron genader en gesê dat hy ‘n agent van die munisipaliteit is en dat eersgenoemde solank die R5 000 in sy spaarrkening kan inbetaal. Die bron het daarna vir BCJ en die SAPD gekontak. Hy het toe aan die verdagte gesê dat hy hom die volgende dag by sy kantoor kan ontmoet waar laasgenoemde op die tonneel gearresteer is. Hy is nog in aanhouding vir verdere ondersoek. Meiring vermoed dit was nie die verdagte se eerste swendelslenter is nie. “Die publiek moet asseblief nie vir hierdie skelmstreek val nie,” het Meiring gewaarsku.
