Veldwagters se onsensitiewe optrede ontstig
Foto's van 'n groep veldwagters wat 'n renoster se horing ten aanskoue van toeriste afkap, het menige mense warm onder die kraag.

SKUKUZA – Foto’s van ‘n groep veldwagters wat ‘n renoster se horing ten aanskoue van toeriste afkap, het menige mense warm onder die kraag. Daar word verder beweer dat die veldwagters ”onsensitief” was met die uitvoering van hierdie taak.
Laevelder het die foto’s aan die wildtuin se woordvoerder, mnr. William Mabasa, gestuur en wou weet wat presies op die toneel gebeur het.
Volgens Mabasa is die renoster tydens ‘n geveg met ‘n ander renoster dood en moes die horing so gou moontlik verwyder word voordat daar iets met dit sou gebeur.
Dit was ‘n unieke geval en omdat die renoster teenaan die pad was, was daar nie ‘n ander keuse as om dit daar te doen nie. Mabasa het gesê dis jammer dat toeriste dit moes aanskou, maar dat daar bloot nie genoeg veldwagters was om die mense weg te kry, die gebied af te sper en die werk gedoen te kry nie.
Dit is standaardprosedure vir amptenare om in die geval van ‘n renoster of olifant se dood die horing en tande onmiddellik te verwyder en dit na Skukuza toe te neem. Hier word die horings of tande dan in ‘n register opgeteken en in veilige bewaring geplaas.
