FeaturesHard newsInnibos NuusLifestyleLocal newsNews

Baby Tjoklits woedend vir Jordaan-boet

Die toneeltjie wat hom Woensdagaand skuins na middernag in die BBP-losie afgespeel het, het mens so effe aan Dawid en Goliat herinner. In die een hoek was die korterige, maar baie dapper Dewald Jordaan en in die ander, die frisgeboude Baby Tjoklits-sanger Gerhard Steyn.

MBOMBELA – Die toneeltjie wat hom Woensdagaand skuins na middernag in die BBP-losie afgespeel het, het mens so effe aan Dawid en Goliat herinner. In die een hoek was die korterige, maar baie dapper Dewald Jordaan en in die ander, die frisgeboude Baby Tjoklits-sanger Gerhard Steyn.

Dewald is die broer van Arno Jordaan en was einde verlede jaar ook in die nuus toe hy in ‘n ernstige motorongeluk betrokke was en vir ‘n geruime tyd in die intensiewesorgeenheid van ‘n Pretoriase hospitaal behandel is. Een ding was duidelik, Steyn en Jordaan het nie ooghaBre vir mekaar nie. Net ná Steyn se optrede op die Standard Bank-verhoog waar hy die gehoor op hul voete gehad het met sy ritmiese Diamante vir jou en Parfuum, het hy en sy span by die BBP-losie gaan eet. Die groep het die grootste gedeelte van die aand in die restaurant-area gesit en kuier. Eers kort voor die onderonsie, het hulle na die kuiergedeelte – wat die Leeukuil heet – oorgestap vir ‘n paar drankies. Lede van die media, ‘n paar borge en verskeie kunstenaars was nog in die kuierplek en op die intieme verhogie het ‘n paar rockers dit uitgekap.

Die eerste aanduidings dat daar moeilikheid aan die kom is, was toe Dewald deur se kant toe gestaan het, en met sy wysvingertjie vir ‘n vriend van Jordaan “genooi” het om saam met hom uit te stap. Sy uitdagende houding het die gewenste uitwerking gehad en dié man se vrou moes bontstaan om hom onder beheer te kry. Dit het etlike minute aangehou en haar benoudheid is vinnig deur almal om haar opgemerk. Dis toe dat Steyn nader stap.

Die koggelende Jordaan het vinnig laat blyk dat grootte hom nie afsit nie en het Steyn, wat op sy dag ‘n uitsmyter was, ook uitgelok. Dié het sy mooi leerbaadjie uitgetrek, en gereed gemaak om Jordaan ‘n les te leer. Dis toe dat ‘n plaaslike sakeman en ‘n paar kunstenaarsvriende nader staan om ‘n potensiële vuisgeveg te keer. Dit het mooipraat en soebat gekos om Steyn, wat gereed was vir aksie, onder beheer te bring. Sy blonde vroutjie, Zelri, het net moedeloos gesug en gesê: “Mans en hul testestoroon!”

Nie een van die twee wou presies sê wat tussen hulle krap nie, maar beide het laat blyk dat dié vete ‘n ou een is wat oor baie jare kom. Steyn en sy gevolg het kort daarna die aftog geblaas terwyl Jordaan nog ‘n drankie by die kroeg bestel het.

In 2012 het Steyn in ‘n tydskrifonderhoud met Sarie gesê hy het sy eerste vuisgeveg in gr. 4 gehad. Volgens hom het hy nie eers geweet hoekom die outjie hom geslaan het nie en het hy weggestap. Hy het glo toe besluit dat as hy weer in so ‘n situasie beland, hy weer nie sal terugstaan nie.

Dit was duidelik dat hy steeds by sy gr. 4-besluit hou.

Hier is ‘n kykie na Woensdagaand se Huisgenoot Afskop-konsert:

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button