FeaturesInnibos NuusLifestyleLocal newsNewsNews

Rockspyskaart bied wilde vermaak

Vanaand gaan die musikale hoofgereg bedien word met Van Coke Kartel, Die Heuwels Fantasties, Shortstraw en ’n klomp ander kunstenaars wat hul beste vir laaste sal wil los.

Musiek is kos vir die siel en inderwaarheid het honderde rockliefhebbers die musikale aptytwekkers van die afgelope paar dae by Innibos verslind. Die Coca-Cola-verhoog het Donderdag en Vrydagaand die bos geskud dat die kranse antwoord gee. Dit was wilder as die wildtuin met Black Cat Bones, Karen Zoid, Dan Platansky, Gangs of Ballet en ISO wat die gehoor in die palm van hul hande gehad het.

Karen Zoid het Vrydagaand haar stem dik gemaak voor die skare wat met opwinding gewag het vir haar eerste noot en kenmerkende stem. Zoid het nie teleurgestel nie en met gunstelinge soos “Small Room” en “Aeroplane Jane” almal laat saamsing. Kenmerkend van haar vertoning was ’n hele ry meisies wat duidelik in die sewende hemel was met Zoid op die verhoog. Hul blydskap het tot in ekstase oorgeloop toe sy met haar liedjie Deurmekaar wegval. Dit was ’n uitstekende en hartroerende weergawe en bevestig Zoid as een van ons land se beste liedjieskrywers en verhoogkunstenaars.

Dan Platansky, Suid-Afrika se eie Jimi Hendrix, het weer sy meesterlike kitaartalent met sy bluesrock bewys. Die man weet hoe om ’n kitaar te hanteer – Platansky is soos ’n poppemeester wat die snare so kan trek dat ’n heelal van klanke geskep word. Hy en sy kitaar is die hele tyd in ’n musikale simbiose betrokke; Soos vinkel en koljander, een nie sonder die ander.

Black Cat Bones het veral vir opspraakwekkende en onvergeetlike vermaak gesorg. Die MK-wenners vir beste live act 2013” het bewys hoekom die verhoog hul speelplek is. Sanger, Kobus “Rot” de Kock, het die varktema van die fees letterlik kop toe gevat en met ystervarkpenne in sy hare, was sy energie beslis varkenlekker. ’n Hoogtepunt was toe hy soos ’n wafferse bosaap teen een van die ondersteuningspilare opgeklim het en van omtrent ’n drie meter hoogte die groep se treffersnit Black Cat Bones met mening uitgebasuin het.

Vanaand gaan die musikale hoofgereg bedien word met Van Coke Kartel, Die Heuwels Fantasties, Shortstraw en ’n klomp ander kunstenaars wat hul beste vir laaste sal wil los. Van Coke Kartel het geen voorstelling nodig nie en na ontelbare MK- en Ghoema-toekennings, het hul album Bloed, Sweet en Trane, met die SAMA vir beste rockalbum vir 2014 weggestap. Sanger Francois van Coke is ’n Afrikaanse rock-ikoon wat dit regkry om skares mense te laat saamsing en sy naam te skree wanneer hy die mikrofoon aanraak. Wynand Myburgh is die generaal van die groep en maak seker dat elke vertoning klopdisselboom met sy baskitaarritmes loop. Jedd Kossew se asemrowende kitaarwerk en solo’s is iets om te beleef, terwyl die nuweling in die groep, Dylan Hunt, ’n gevestigde naam in die Suid-Afrikaanse rockbedryf is en ’n reputasie as een van Suid-Afrika se vinnigste dromspelers het.

Vanaand is jou laaste kans om jou kop behoorlik te skud en saam met die beste talent in die land ’n varkenlekker tyd te hê.

Wat Kobus “Rot” de Kock van Black Cat Bones Donderdagaand uitgebulder het, is nou meer as ooit gepas – “Nou moet jy dans pappie, nou moet jy dans!”

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button