MBOMBELA – ‘n Man (36) is laat gisteraand dood in ‘n tromp-op botsing in Enos Mabuza-rylaan.
Dit het omstreeks 23:45, net anderkant die verkeersirkel by Noordsig-landgoed in Steiltes se rigting gebeur. Die oorledene was met ‘n Volkswagen Polo in daardie rigting onderweg toe sy voertuig met ‘n Ford Ranger, wat op pad was na Westend se kant, gebots het.
Lifemed en Hi-Tech se ambulanse het op die toneel aangekom. Mnr. Metrie Greyling van Lifemed het die Polo se bestuurder op die toneel dood verklaar. Dit blyk dat hy op slag dood is. Hy is geïdentifiseer as mnr. Dudley Hatton-Jones. Die Polo is in Kwazulu-Natal geregistreer.
Die bestuurder van die Ford was ‘n jongman wat op die toneel vertel het dat dit sy pa se bakkie is. Hy het gekla van nekpyn en was geskok om te verneem dat die bestuurder van die Polo nie die ongeluk oorleef het nie. “Toe ek weer sien is hy voor my,” het hy gesê.
