Albert Maritz se hare waai oor KykNET nie reeks wil laat opneem
Hy het sowat twee maande gegroei aan sy hare en baard vir 'n rol in Die Buurtwag wat vir kykNET verfilm sou word, maar het Donderdag finaal verneem dat dit nie gaan gebeur nie. Dié betaalkanaal het kwansuis nie geld daarvoor nie
Die stad wemel van bekendes en legendes en word met Innibos tydelik in ‘n mini-Hollywood omskep. Ons sien celebrities op die feesterrein, in eetplekke by die malls en klerewinkels.
Tog is dit ongewoon om een van hulle in ‘n haarsalon op te merk. Inkopiegangers by I’langa Mall het Vrydagoggend in hul spore vasgesteek toe hulle verby Hair@I’langa loop, en Albert Maritz in een van die stoele opmerk, besig om ‘n haarsny te kry.
Muskiet was onmiddellik nuuskierig en het gaan inloer om uit te vind hoekom Albert nie kon wag vir ‘n knip tot hy terug is by die huis nie. Dis toe eintik ‘n baie hartseer storie.
Hy is ‘n meester. Punt. Geen ander woord laat reg geskied aan Albert ná sy puik vertolking van die sadistiese, egosentriese Herman Roodt in Konings en Torings nie. Dis al 23 jaar gelede.
Hy het sowat twee maande gegroei aan sy hare en baard vir ‘n rol in Die Buurtwag wat vir kykNET verfilm sou word, maar het Donderdag finaal verneem dat dit nie gaan gebeur nie. Dié betaalkanaal het kwansuis nie geld daarvoor nie.
“Die hare kan dus nou maar waai,” het Albert dapper geglimlag. Die baard het hom in elk geval geïrriteer, so hoekom wag tot die fees verby is? “Dis jammer, want ek hoor die tekste vir Die Buurtwag is van hoogstaande gehalte,” het hy vertel.
Hy sê hyself is okay, maar honderde ander akteurs en tegniese personeel is vandag op hul knieë weens skrapse fooie en die kansellasie van reekse.
Die Buurtwag is oorspronklik geskryf vir 2012 se Silwerskermfees wat ten doel het om nuwe talent te ontdek en te ontwikkel. Dié kortfilm is baie goed ontvang en Beer Adriaanse het die prys gewen vir die beste teks vir kortfilms. Jaco Smit is aangewys as die beste regisseur en Die Buurtwag het ook die sogenaamde Audience Award gekry vir beste kortfilm.
Die rolprent is later telkens op kykNET uitgesaai en onderhandelings het begin om dit in ‘n reeks te omskep. Albert het vertel dat daar reeds 26 tekste, genoeg vir twee reekse, geskryf is, maar kykNET sien nie kans om ‘n toereikende begroting daarvoor beskikbaar te stel nie.
Albert sê hy dra nie self kennis van wat agter die skerms gebeur nie, maar was bereid om te sê: “Almal betrokke – die produksiespan, regisseur en akteurs – was bereid om teen verlaagde fooie te werk.”
Muskiet verneem dat mense in die bedryf maar swaar sluk aan kykNET se verskoning. ‘n Teksskrywer het op Facebook geskryf dat die SAUK R1,8 miljoen per uur uit advertensies verdien het wat onlangs tydens Konings en Torings uitgesaai is.
Albert self wou nie hierop kommentaar lewer nie. “Ek gesels liewer oor die verlies aan mentorskappe en kwaliteit in die veld. “‘n Debat oor begrotings is nie my veld nie en vingerwys bring mens nêrens nie.”
Hy meen egter dat die situasie onuithoubaar geraak het. “Ons word gedwing om ander rigtings in te slaan om kos op die tafel te sit. Ek self oorweeg dit om weer dosent te word.”
Inderdaad ‘n hartseer storie. Dis hartseer dat sulke talent verlore gaan omdat akteurs nie werk het nie – selfs al bied hulle aan om teen verminderde fooie te werk uit lojaliteit aan Afrikaans en die kuns.
Intussen hanteer Albert dié terugslag met grasie en kom self sy baard met die knipper by. “Hierdie een is Herman,” glimlag hy toe net ‘n snor en sidies oorbly. “Hierdie een is Vloeksteen,” wys hy toe hy nog ‘n keep uitsny.
‘n Meester, sê ek jou. Een wat ons nog hopelik lank in ons taal sal vermaak.
