
LYDENBURG – Vyf vermeende renosterstropers is laat Sondagaand aangekeer nadat hulle op ‘n plaas in die omgewing afgelaai is – vermoedelik op die punt om renosters te stroop.
Die arrestasies is onder andere gedoen deur beamptes van die provinsiale operasie-koördinasie-kantoor en lede van Lydenburg se honde-eenheid.
Volgens kol. Arrie de Beer, bevelvoerder van die operasie-koördinasie-kantoor, het hulle verskeie operasies in die omgewing gehou nadat renosters vantevore hier gestroop en gekwes is. Hulle het inligting ontvang dat verskeie mans op pad was na ‘n plaas in die omgewing om renosters te stroop en het dit opgevolg.
Lede is op strategiese plekke op roetes in die gebied geplaas om die verdagtes dop te hou. Twee voertuie – ‘n Ford Kuga en splinternuwe Nissan 1 600-bakkie wat nog nie eens permanente nommerplate het nie – het die plaas betree en verdagtes hier afgelaai. Twee mans is hier gearresteer en ‘n .458-jaggeweer met knaldemper; ‘n .375-jaggeweer en byle is in hulle besit gevind.
Die twee voertuie het teruggekeer na Lydenburg en die bestuurders is hier by ‘n Sasol-vulstasie in hegtenis geneem. Al die verdagtes is van Gauteng en Noordwes woonagtig en een van hulle is na wat verneem word ‘n tronkbewaarder in Brits.
Hulle sal na verwagting môre in die hof op Lydenburg verskyn.
