Engela Barnard-opvolg: boetie ook jare gelede in ongeluk dood
Engela se broer, Pieter, was maar destyds vier jaar oud toe hy in 1986 dood is - óók in 'n motorongeluk. Hulle ma, me. Wilmien du Plessis bly in Bloemfontein en het dadelik Laeveld toe gekom toe sy die skoktyding gekry het
MBOMBELA -Me. Engela Barnard (29) wat Donderdagaand laat dood is toe sy en haar man op pad terug na Sabie in ‘n ongeluk was, is die tweede kind wat haar ma só aan die dood moes afstaan.
Engela se broer, Pieter, was maar destyds vier jaar oud toe hy in 1986 dood is – óók in ‘n motorongeluk. Hulle ma, me. Wilmien du Plessis bly in Bloemfontein en het dadelik Laeveld toe gekom toe sy die skoktyding gekry het. Engela het nog ‘n broer, Willem (27), wat by Sabi Sands werk.
Barnard en haar man, mnr. Francois Barnard (29) was Donderdagaand by Innibos en op pad terug na hul huis in Sabie toe die ongeluk gebeur het. Niemand weet presies hoe laat dit gebeur het nie, maar Francois het die hele nag op die toneel gelê – erg beseer – voordat hy uiteindelik die volgende oggend gevind is.
Engela was by Produkta in Mbombela werksaam en het elke oggend saam met ‘n kollega, mnr. Johnny Vermeulen, ‘n saamrygeleentheid vanaf Sabie gehaal. Sy en Francois, wat by Barnhoorn Boumaatskappy in Sabie werk, sou Donderdagaand by mense in Mbombela oorslaap en Vermeulen het Vrydagoggend bloot hul huiswerker by hul huis gaan aflaai.
Hy het deurgery na die stad en was geskok toe hy by die werk kom en hoor dat Engela nie daar is nie. Hy en ander kollegas het toe op onderskeidelik die Sabie/Lydenburg-pad en Witrivier/Sabie-pad gery om hulle te gaan soek.
“Ek het op die Sabie/Lydenburg-pad gery en gekyk of ek merke op die pad sien. Ek het toe op hulle afgekom,” het Vermeulen hartseer vertel. Die egpaar se Nissan Quasquai is sowat 30 kilometer buite Mbombela van die pad af en het etlike meter ver teen die berg afgerol. Verskeie ambulans- en nooddienste is ontbied.
Engela is op die toneel dood verklaar en Francois is met ernstige beserings na Mediclinic Nelspruit geneem. Hy het interne bloeding en frakture aan sy ribbes en gewrig opgedoen en word in die intensiewesorgeenheid behandel. Hy weet Engela het nie die ongeluk oorleef nie, maar niemand kon nog by hom uitvind presies wat gebeur het nie.
Die egpaar het ‘n seuntjie, Renard (1), wat by Francois se ouers in Sabie oornag het.
Dit is duidelik op Engela se Facebook-blad dat sy ‘n gewilde en geliefde mens was. Crystal van Wyk het byvoorbeeld geskryf: “Mag jy in vrede rus mooie mens. Sterkte aan die familie, en Francois, mag ons Hemelse Vader julle toevou in sy genade in hierdie onwerklike en moeilike tyd.”
Alida Basson het geskryf: “Ek is so geskok! Woorde ontbreek my. Rus sag Engela en mag jou liefde en vriendelikheid voortleef in daai pragtige seuntjie van jou.”
Begrafnisreëlings is nog nie getref nie. Francois se broer, mnr. Ruan Barnard, het gesê dat Francois graag die diens sal wil bywoon en hulle daarom wag om te hoor wanneer hy sterk genoeg sal wees daarvoor voordat reëlings gefinaliseer sal word.
