FeaturesHard newsInnibos NuusLifestyleNewsNews

Innibos bars letterlik uit sy nate; kaartjieverkope gestaak

Teen 18:45 het 35 000 mense reeds deur die hekke gebeur en het die Gesamentlike Operasionele Sentrum en Rampbestuur besluit om alle kaartjieverkope by die hek te stop

Die Innibos-feesterrein het Saterdagaand letterlik uit sy nate gebars, en talle voornemende feesgangers is weggewys toe hulle Hoërskool Bergvlam wou betree.

Teen 18:45 het 35 000 mense reeds deur die hekke gebeur en het die Gesamentlike Operasionele Sentrum en Rampbestuur besluit om alle kaartjieverkope by die hek te stop. “Die area voor die hoofverhoog was tot kapasiteit toe vol en om meer mense op die feesterrein toe te laat, sou ‘n veiligheidsrisiko wees. Feesgangers wat reeds kaartjies gekoop het en wou inkom, is toegelaat, maar nuwe kaartjieverkope is gestop,” het me. Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos, verduidelik.

Sy het bygevoeg dat minder mense Woensdag- en Donderdagaand se konserte bygewoon het, maar meer het Vrydag- en Saterdagaand kom makietie hou. “Die algehele bywoningsyfer is effe minder as verlede jaar, maar die bestuur is tevrede met die syfers. Die ekonomie knyp maar en ons moet dit in gedagte hou,” het sy gesê. Laerskoolkinders is mos hierdie jaar gratis toegelaat en Jacobs meen dit het ook kaartjieverkope beïnvloed.

Stalletjiehouers kla egter nie en glimlag al die pad bank toe. Volgens Jacobs meld hulle rekordverkope aan en sy kry ook baie goeie terugvoer vanaf die kunsmarkstalletjies. “Hulle beskryf dit as ‘n uitstekende jaar en die beste van die afgelope 11 jaar wat Innibos aangebied is.”

Nog ‘n haakplekkie het egter Saterdagaand opgeduik. Talle feesgangers se kele het droog geraak omdat bier in die vraghouer op die feesterrein gevries het, en dus nie bedien kon word nie. Jacobs het verduidelik dat die vraghouer op ‘n ysige -20 grade Celcius gestel was, in plaas van net vier grade.

Die 2 200-liter bier moes by kykNET se musiektent verkoop word, maar was kliphard gevries. SAB het bloot gesê: “Jammer om te hoor. Ongelukkig kan julle nie hierdie bier ontvries en verkoop nie.”

Innibos se Facebook-blad wemel egter van positiewe terugvoer van feesgangers wat dit eens is dat hierdie ‘n onvergeetlike een was!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button