
Met rooftogte en inbrake wat byna alledaags geword het, is dit belangrik dat gemeenskappe saamstaan om sekuriteit op te knap. Dis met hierdie doel dat die Witrivier Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) ‘n landelike-veiligheidskomitee (LV) op die been wil bring.
Die komitee bestaan tans slegs uit mnr. Ryan Winter, voorsitter van die GPF en die VISPOL-bevelvoerder by die Witrivier SAPD. Hulle doen ‘n beroep op vrywilligers om hulle te ondersteun deur op die uitvoerende komitee te dien. ‘n Voorsitter word ook benodig aangesien Winter nie as beide die GPF en LV se voorsitter kan dien nie.
Die totstandkoming van LV’s word in die SAPD se nasionale strategie vir landelike veiligheid voorgeskryf.
Die hoofdoelstellings van die komitees is die veiligheid en sekuriteit van alle persone wat in landelike gebiede woon (wat plase en plotte insluit), die verbetering van gemeenskapspolisiëring en die voorkoming van misdaad in sodanige areas, asook om landelike ontwikkeling te ondersteun.
Winter sê dat daar met die destydse veranderings in die weermag se strukture, ontslae geraak is van kommandemente en verskeie deeltydse eenhede wat, tesame met kommando’s, ‘n groot rol in landelike beveiliging gespeel het.
Die SAPD se landelike beveiligheid-strategie is dus daarop gemik om die leemte te vul. Winter maan dat landelike gemeenskappe gebruik moet maak van hierdie geleentheid om by te dra tot die bekamping van misdaad in landbougemeenskappe en die platteland.
Om betrokke te raak of vir navrae, stuur ‘n e-pos aan Winter by whiterivercpf@gmail.com
