MBOMBELA – ‘n Dogtertjie van 19-maande was teen druktyd in Mediclinic Nelspruit se teater waar verskeie wonde oor haar lyfie skoongemaak is nadat twee Rottweilers haar Woensdag aangeval het.
Haar dapper ma is self aan die kop gebyt toe sy op haar kind gaan lê het in ‘n poging om haar teen die honde te beskerm.
Die voorval het laat Woensdagmiddag by ‘n huis in Witrivier gebeur. Me. Belinda du Buson het met haar baba, Kilinda Erasmus, by vriende gaan kuier.
Sy het haar uit die voertuig getel en met haar in haar arms gestaan toe twee Rottweilers uit die agterplaas gekom het deur ‘n hekkie wat nie op knip was nie.
Du Buson se vriendin se ma het buite by hulle gestaan toe die honde op hulle afstorm. Die twee vroue het met Kilinda tussen hulle gestaan, maar die honde het die ma bloot uit die pad gestamp en Kilinda uit Du Buson se arms gegryp.
“Ek kan nie beskryf wat deur jou kop gaan as honde jou kind gryp nie,” het Du Buson vanoggend vertel. Sy het bo-op Kilinda gaan lê en die honde het haar ook aan die kop gebyt en rondgepluk.
“Daar was ‘n swembad naby en ek het gedink ek moet met Kilinda daar inspring in ‘n poging om weg te kom van die honde,” het Du Buson bygevoeg.
Die vriendin, wat in die bad was, het intussen uitgehardloop en die een hond se bek oopgedwing waarop hulle Du Buson en Kilinda gelos het.
Hulle het met haar die huis ingehardloop en waslappe met Savlon-ontsmetmiddel op die wonde gesit. Hierna het hulle met Kilinda na Mediclinic gejaag.
“Kilinda was baie dapper en rustig. Sy het nie eens geskree toe die honde haar byt nie,” het Du Buson vertel.
Kilinda se voorkoppie het ‘n groot skaafwond op – vermoedelik soos die honde haar oor die plaveisel gesleep het. Daar is ook groot wonde aan haar boudjie, heup en armpie.
Met Laevelder se besoek aan die hospitaal, was sy erg knieserig en het vermoedelik baie pyn verduur. “Ek self is geweldig styf en seer na ek met die honde moes stoei, so ek kan net dink hoe voel Kilinda,” het Du Buson gesê.
Die honde is nie van kant gemaak nie.
