Hard newsLocal newsNewsNewsUpdate

Vyf vermeende stropers op plaas aangekeer

Na bewering blyk dit of drie van die mans van Mosambiek afkomstig is en ‘n ander man na wat verneem word ‘n tronkbewaarder van Brits is.

LYDENBURG – Vyf vermeende renosterstropers is Sondagaand in hul spore gestuit nadat twee voertuie by ‘n wildsplaas in Lydenburg opgemerk is. Dit volg na verskeie veldtogte teen renosterstroping en operasies oor die afgelope paar maande in dié omgewing deur die SAPD Lydenburg se honde-eenheid, K9 Security en Badfontein Landowners Internal Safety and Security (BLISS) uitgevoer is toe ‘n renoster vroeër die jaar op dieselfde plaas gedood is en ander in twee afsonderlike voorvalle gekwes is

Volgens mnr. Andries Bezuidenhout van BLISS het lede van die SAPD se spesiale taakmag Sondagaand dié twee voertuie, ‘n Ford Kuga en splinternuwe Nissan 1 600-bakkie opgemerk by die plaas en onmiddellik onraad vermoed.

Van die verdagtes het die voertuie verlaat en die renosterkamp te voet betree waar hulle betrap is met ‘n byl, saag, rondes sowel as ‘n .458-jaggeweer met ‘n knaldemper. Die res van die verdagtes het egter op die ander voertuig gebly waar hulle met ‘n .375-jaggeweer in hul besit aangetref is.

Die twee voertuie het na Lydenburg teruggekeer en die bestuurders is by ‘n Sasol-vulstasie in hegtenis geneem.

Black rhinoceros (Diceros bicornis)

Volgens me. Freda Muller, wat toevallig by die vulstasie was toe dit gebeur het, het hulle blou ligte gesien en besluit om nader te ry. “Ons het ingedraai en stadig om die petrolpompe gery waar ons twee of drie mans op die grond sien lê het wat met “cable ties” vasgebind is. Ons eerste indrukke was egter dat hulle vermoedelik ‘n kar gesteel het, omrede ons ‘n splinternuwe kar daar sien staan het, nog sonder ‘n nommerplaat,” vertel Muller.

Volgens Bezuidenhout is al vyf verdagtes gearresteer en tans in aanhouding by die Lydenburg-polisieselle.

Bezuidenhout sê daar is al verskeie arrestasies in die omgewing gemaak vir die onwettige jag van wild en daar is ook op menigde vuurwapens, wettig en onwettig, beslag gelê.

ren1

“Daar is ‘n spesiale eenheid in die SAPD waarvan daar gebruik gemaak word om stropers te stuit en ons bedank graag die spesiale taakmag vir die puik optrede,” het Bezuidenhout gesê. “Ek dink stropers sal twee keer dink om weer in ons gebied in te kom.”

Die mans sou Dinsdag in die hof verskyn, maar Steelburger/Lydenburg Nuus het intussen verneem dat die saak aan die Valke oorgegee is. Na bewering blyk dit of drie van die mans van Mosambiek afkomstig is en ‘n ander man na wat verneem word ‘n tronkbewaarder van Brits is. Die Valke kon egter teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button