Hard newsNewsNewsUpdate

Dogtertjie herstel goed ná rottweilers haar takel

Kilinda gaan ook vandag met speelterapie begin omdat sy sedert die voorval erge nagmerries kry

MBOMBELA – ‘n Dogtertjie van 19 maande herstel goed nadat sy Woensdag deur twee rottweilers uit haar ma se arms geruk en byna verskeur is.

Sy word sedert die voorval in Mediclinic Nelspruit behandel. Haar dapper ma is self aan die kop gebyt toe sy op haar kind gaan lê het in ‘n poging om haar teen die honde te beskerm.

Die voorval het laat dié middag by ‘n huis in Witrivier gebeur. Me. Belinda du Buson het met haar kind, Kilinda Erasmus, by vriende gaan kuier.

Sy het haar uit die voertuig getel en met haar in haar arms gestaan toe twee rottweilers uit die agterplaas deur ‘n hekkie wat nie op knip was nie, gekom het.

Du Buson se vriendin se ma het buite by hulle gestaan toe die honde op hulle afgestorm het. Die twee vroue het met Kilinda tussen hulle gestaan, maar die honde het die vriendin se ma bloot uit die pad gestamp en Kilinda uit Du Buson se arms gegryp.

“Ek kan nie beskryf wat deur jou kop gaan as honde jou kind gryp nie,” het Du Buson Vrydagoggend in Mediclinic vertel. Sy het bo-op Kilinda gaan lê en die honde het haar ook aan die kop gebyt en rondgepluk.

“Daar was ‘n swembad naby en ek het gedink ek moet met Kilinda daar inspring in ‘n poging om van die honde af weg te kom,” het Du Buson bygevoeg.

Die vriendin, wat in die bad was, het intussen uitgehardloop en die een hond se bek oopgedwing waarop hulle Du Buson en Kilinda gelos het.

Hulle het met haar die huis ingehardloop en waslappe met ‘n ontsmettingsmiddel op die wonde gesit. Hierna het hulle met Kilinda na Mediclinic gejaag.

“Kilinda was baie dapper en rustig. Sy het nie eens geskree toe die honde haar byt nie,” het Du Buson vertel.
Die kleuter se voorkoppie het ‘n groot skaafwond opgedoen – vermoedelik soos die honde haar oor die plaveisel gesleep het. Daar is ook groot wonde aan haar boudjie, heup en arm.

Met Laevelder se besoek aan die hospitaal Vrydag, was sy erg knieserig en het vermoedelik baie pyn verduur. “Ek self is geweldig styf en seer na ek met die honde moes stoei, so ek kan net dink hoe Kilinda voel,” het Du Buson gesê.

Sy is later Vrydag na die teater en die dokter het gesê dat haar wonde dieper was as wat aanvanklik vermoed is. Daar is pypies ingesit om die meeste bloed en vog te dreineer, maar dit is Sondag weer uitgehaal en sy is tans op ‘n sterk kursus antibiotika.

Kilinda gaan ook vandag met speelterapie begin omdat sy sedert die voorval erge nagmerries kry.

Die honde is nie van kant gemaak nie. ‘n Staatsveearts, dr. De la Rey Brugman, het by navraag gesê dat die honde nie tekens van hondsdolheid toon nie. “Ons is na die toneel nadat die eienaar ons ontbied het. Die honde se inentingsrekords wys dat hulle gereeld teen hondsdolheid ingespuit is.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button