
Die plakkers wat in die parkie oorkant The Village Centre sou verwyder word, bedryf nog steeds hul besighede hier.
Volgens mnr. Joseph Ngala, woordvoerder vir Mbombela-munisipaliteit, sou hulle meer as ‘n week gelede verwyder word.
Nelspruit Post het weer gaan ondersoek instel en gesien dat twee snoepwinkels steeds bedryf word en die man wat skoene regmaak is ook weer terug. Die munisipale amptenare in beheer van smouse het Maandagmiddag persoonlik weer die parkie besoek.
Inwoners is moedeloos met die situasie. Hulle voel dis duur (in erfbelasting en eiendomspryse) om in die area te woon wat in ‘n plakkerskamp kan ontaard.
Volgens Ngala is die plakkers verlede Donderdag verwyder, maar hy het bygevoeg dat hulle verdere ondersoek sal instel na die plakkers se terugkeer.
