Hard newsNewsNews

Familie in sak en as na huis afbrand

‘n Familie wat reeds in sak en as is, moes Woensdagmiddag toekyk hoe hul woonstel met hul laaste aardse besittings afbrand.

BARBERTON –  Dit is amper onmoontlik vir Wimpie en Lizaan Swart en hul kinders Marco (5) en Angelique (4) om eers te dink hoe hulle hierdie jongste tragedie gaan oorkom.

Die gesin woon in Palmyra-woonstelle en was besig om middagete voor te berei, toe die brand ontstaan het. Lizaan vertel dat haar kleinding, Angelique, kort-kort in die kombuis ingekom het om oor die baba-katjies te neul. Sy het haar nie veel daaraan gesteur nie en vir haar gesê om die katte uit te los en in die sitkamer te gaan speel.

Wimpie, wat al vir ‘n geruime tyd werkloos is, was saam in die kombuis. Toe haar dogtertjie nie ophou neul nie, het sy gaan kyk waaroor die bohaai gaan en gesien hoe die ma-kat besig was om haar kleintjies uit te dra, terwyl die gesin se Jack Russell Angelique probeer keer het om die sitkamer binne te gaan.

“Ek kan nie presies beskryf wat op daardie oomblik gebeur het nie, maar die vlamme was reeds orals. Ek het Angelique aan die arm gegryp en letterlik by die kombuis ingeslinger dat sy oor die vloer skuif tot buite en histeries aan die skree gegaan dat my man moet kom help.”

Sy is die sitkamer in om die televisie te gryp, maar het dié net so neergegooi toe die dak begin insak het. Wimpie het nog probeer om met water die vlamme te blus, maar die vuur was reeds besig om alles te verteer. ‘n Buurman, Ian Nienaber, het bewus geword van die rumoer.

“Dit was chaos,” sê hy. “Ek het besluit om die brandweer sommer self te gaan haal en het na die polisie se kantore gejaag.”

Hy het die vroulike offisier wat die toonbank beman het, gevra om die brandweer te kontak. Dié het net geantwoord sy ken nie die nommer nie en was duidelik glad nie lus om hom te help nie. Volgens hom het ‘n manlike kollega aan haar uitgewys dat die nommer teen die muur was, maar sy het hom net geïgnoreer. Ian is toe aangesê om na die verkeersdepartement toe te ry omdat die brandweerstasie daar geleë is.

Daar aangekom kon die brandweerwa uiteindelik Palmyra toe vertrek. Vir hul poging het almal net lof. “Jan Janse van Vuuren en Clarence  Hobbs het met mening teen die vlamme baklei, asook Joze Garcias en een van sy werknemers wat hulle te hulp gesnel het,” vertel Ian se ma, Jackie Nienaber.

Ongelukkig het geen van hierdie pogings enige sukses opgelewer nie, aangesien die vuur ‘n pad van verwoesting gelaat en elke besitting van
die Swarts verswelg het. Die eienaar van Palmyra het tydelik aan die gesin blyplek in ‘n ander meenthuis verskaf.

“Ons het niks meer om te verloor nie. My man het nie werk nie en ek het ovariese kanker en moet binnekort by die staatshospitaal ‘n operasie ondergaan,” het Lizaan Woensdagaand aan Laevelder vertel. Dit gaan al vir ‘n lang tyd treurig met die gesin en omdat Wimpie nie werk het nie, is hul ook agterstallig met hulle huurgeld.

Van die meubels wat in die vlamme verwoes is, was boonop op huurkoop by ‘n meubelhandelaar in die dorp. “Ek sal op hierdie stadium enigiets doen om geld te verdien, selfs in mense se tuine gaan werk,” sê Wimpie.

Die oorsaak van die brand is nog onbekend en ‘n ondersoekspan van Mbombela moet nog by die toneel uitkom.

DA-raadslid Philip Minnaar sê: “Hierdie gemeenskap het alreeds Woensdagaand begin om klere, kos en meubels na die Swart-gesin te neem. Die mooi van Barberton is dat mense werklik saamstaan as dit moet en dit laat my baie trots voel om myself ‘n Barbertonner te noem.

“Baie dankie vir elkeen wat hierdie mense in hul uur van nood te hulp gesnel het. Nogtans is daar nog ‘n ver pad om te stap voor hulle lewens weer op dreef sal kom. Ek wil vra dat die gemeenskap asseblief help waar  hulle kan om die Swart-gesin weer op hul voete te kry.”

Enigiemand wat moontlik met kos, klere of enige ander benodighede kan bystaan, kan die Barberton Times-kantoor by 013-712-7329 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button