Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit het dieselfde dag as wat die diefstal aangemeld is, die fiets in die vlei in Kremetartstraat gevind.
Mnr. Kevern van Rensburg was die beampte wat mnr. Mathew Riddle se motorfiets teruggevind het. Sy ma het Hi-Tech op Facebook bedank: “Baie dankie! Jy het geen idee hoeveel dit vir my seun beteken om sy fiets terug te hê nie! Dit is sy trots en vreugde.”
Mnr. Callum MacPherson van Hi-Tech het gesê hulle kry soms motorfietse in die vlei. “Baie van die diewe kan met die fietse wegry, maar dit hang af of hulle maklik aan die gang kan raak. Soms is dit maklik en jy het basies net krag nodig om die enjin aan die brand te kry, want jy kan die aansluiter forseer. Bromponies is maklik. Superbikes het meer gekodeerde sleutels ensovoorts.”
Hy het gesê motoraangedrewe fietse word dikwels gesteel. “Mense los hul fietse steeds buite motorhuise. Hulle moet dit maar buite sig bêre.”
