Hard newsNewsNews

Jacaranda oor die vingers getik oor hoender-grappie

Hy het na Olivier as 'n amateur verwys, wat toegang tot enige radiostasie geweier behoort te word

MBOMBELA – Die Uitsaai Klagte Kommissie van Suid-Afrika het Jacaranda FM verlede week oor die vingers getik en met R5 000 beboet nadat ‘n plaaslike omroeper onlangs ‘n onvaspaste grappie oor bestialiteit oor die lug gemaak het.

Dit volg nadat ‘n luisteraar van die stad by dié liggaam gaan kla het oor ‘n grap wat Ron Olivier vertel het. Die datum van die voorval word nie in die uitspraak vervat nie. Die klaer word ook nie geïdentifiseer nie.

Sy klagte lui as volg: “Ek bly in Nelspruit en my voertuig se radio is ingestel op Jacaranda FM. Ek het die betrokke dag my dogter en haar twee vriendinne omstreeks 13:36 by die skool gaan oplaai toe Olivier gesels het oor luisteraars se mees vernederende oomblikke by die werk.”

Olivier het verwys na ‘n man wat op sy kok in die kombuis afgekom het wat “gevry het met ‘n hoender”. “Olivier het gedink dit is baie snaaks, maar ek dink dit is heeltemal onvanpas om sulke grappe gedurende die dag te maak as só ‘n jong gehoor luister.”

Die klaer het bygevoeg dat hy aan die kinders moes verduidelik wat dit beteken “om met ‘n hoender te vry”. Hy het na Olivier as ‘n amateur verwys, wat toegang tot enige radiostasie geweier behoort te word.

Die kommissie het as volg gereageer: “die aanbieder (Olivier) het swak oordeel aan die dag gelê.” Hoewel Olivier se opmerking nie direk na bestialiteit verwys het nie, aangesien die hoender reeds dood was, dit neergekom het op ‘n “verbale beskrywing van iets wat kon lei tot bestialiteit”. Volgens Klousule 8 van die uitsaaikode is bestialiteit ‘n taboe onderwerp.

Jakaranda het erken dat Olivier verkeerd opgetree het en het om verskoning gevra. Hy het gevolglik by die radiostasie bedank.

“Dit was niks anders as iets vuil in ‘n swak poging om snaaks te wys,” lui die kommissie se uitspraak. Die kommissie het gesê dat die verbreking van die uitsaai-kode ten sterkste ontmoedig moet word en dat hulle Jacaranda daarom beboet. Die radiostasie moet aan die einde van Augustus R5 000 opdok.

• Ron Olivier het in reaksie hierop gesê dat hy einde April uit sy eie by Jacaranda bedank het. “Die voorval hou glad nie daarmee verband nie. Ek wou bloot meer tyd hê om aan my ontwerpersloopbaan te wy.”

Hy het bygevoeg dat hy nie bewus was van die klagte tot Maandag nie. Hy voer aan dat hy op dié betrokke dag ‘n spul SMS’e van lesers gelees het.

“Ek onthou nie die spesifieke SMS nie. Ek wou nog altyd ‘n gesinsvriendelike program aanbied. Ek was altyd bewus daarvan dat kinders daardie tyd na my program luister op pad huis toe. As ek ‘n onvanpaste boodskap van ‘n luisteraar oor die lug gelees het, was dit per ongeluk. Ek vra egter verskoning vir enige skade wat moontlik berokken is.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button