Hard newsNewsNews

Vlaag motorfietsdiefstalle duur voort

Hi-Tech beveel aan dat, wanneer dit onmoontlik is om die fiets in 'n garage toe te sluit, dit onder 'n alarm-ogie gesit word sodat 'n poging om dit te steel die alarm sal laat afgaan.

Nog gesteelde motorfietse is die afgelope week deur Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit in vleilande in die stad teruggevind. Die mees onlangse vonds was twee superfietse wat Saterdag in die vlei langs Ferreirastraat gevind is.

Volgens mnr. Nico Grobler van Hi-Tech het hulle inligting van ‘n informant ontvang wat hulle na die toneel gelei het. “Ons moes baie mooi soek – dit was so goed versteek dat ons die motorfietse amper nie gesien het nie,” het hy vertel.

Die fietse is aan hul eienaars terugbesorg. So ook is een wat vroeër die week in die vlei by Kremetartstraat gevind is.

Mnr. Callum MacPherson van Hi-Tech het gesê hulle kry soms motorfietse in die vlei.

“Baie van die diewe kan met die fietse wegry, maar dit hang af of hulle maklik aangeskakel kan word. Soms is dit maklik en het hulle basies net krag nodig om die enjin aan die brand te kry, want hulle kan die aansluiter forseer. Bromponies is maklik. Superfietse het egter gekodeerde sleutels.”

Hy het gesê motoraangedrewe fietse word dikwels gesteel. “Mense los hul fietse steeds buite motorhuise. Hulle moet dit liewer buite sig bêre.”

Grobler het beaam dat motorfietseienaars ondanks die vlaag diefstalle steeds nie hul fietse veilig genoeg bêre nie. “Dit is baie keer jong outjies wat by iemand gaan kuier en sommer op enige plek stilhou. Diewe teiken alle motorfietse, groot en klein, en steel dit sonder dat iemand dit voor die volgende oggend agterkom.”

Sy raad is om wanneer dit onmoontlik is om die fiets in ‘n garage toe te sluit, dit onder ‘n alarm-ogie te sit sodat ‘n poging om dit te steel, die alarm sal laat afgaan. Andersins kan mense dit met kettings of slotte vasmaak sodat enige boosdoeners ten minste geraas sal maak as hulle die fiets probeer verwyder.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button