Die waterprobleem by die munisipaliteit se behusing op Maggiesdal duur voort. Inwoners sê die water word nog steeds so ongereeld afgelewer dat hulle dikwels sonder water gelaat word. Me. Heleen Brummer het verlede week laat weet dat hulle Maandagoggend weer sonder water gestrand is.
Mbombela het gewoonlik twee keer ‘n week – Maandae en Donderdae – water afgelewer. Die inwoners was egter vroeër die maand vir ‘n week sonder water omdat die munisipaliteit se watertenks wat by Maggiesdal aflewer glo gediens word. Mbombela het glo ook nie ander trokke vir aflewering in die area beskikbaar gehad nie omdat hulle almal op ander plekke in gebruik is.
Brummer het verlede week gesê die trokke staan na wat verneem word nog steeds.
“Ons as huurders word regtig soos honde behandel. Dis onaanvaarbaar dat ons tot 10 dae op ‘n keer sonder water sit. Dis ons menslike reg om basiese dienste te verkry. Mbombela gee niks om vir mense nie, maar kom die einde van die maand dan staan hulle bakhand vir hul huurgeld.”
Sy het gesê dit laat haar wonder wat met die huurgeld gebeur, aangesien water en elektrisisteit by hul huur ingereken is. Volgens haar is die water wat wel afgelewer word slegs 5 000 liter en 14 huisgesinne deel dit.
“Ons tenks is leeg. Dis so frustrerend. Mense het kinders. Hulle moet bad, wasgoed en skottelgoed was en die toilet moet spoel,” het sy gesê.
Teen druktyd het mnr. Joseph Ngala, woordvoerder vir die munisipaliteit, nog nie op navrae oor die situasie reageer nie.
